Afgewaterde Wet
05.01.10
Afgewaterde Wet
In alle eerlikheid, diégene wat steeds kies om onder die Ou Testamentiese Wet te leef is eintlik besig om in elk geval te leef onder ‘n “afgewaterde” weergawe, en dit het betrekking op ALMAL op die planeet wat onder die Wet wil leef, insluitend die Jode. Dit is omdat die Ou Testamentiese Wet, opgeteken in die eerste 5 boeke van die Bybel, baie spesifieke instruksies bevat het rakende die ritueel offers en ‘n morele leefwyse, asook die straf vir ongehoorsaamheid daaraan.
Selfs as die Joodse tempel herbou en die ritueel diere-offers weer ingestel sou word, sal geen persoon op die planeet ooit deur hulle eie vlak van wetsonderhouding geregverdig kon word nie volgens die Bybel: [Rom 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde] en ook [Rom 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet].
Die vereistes van die Wet is in werkliheid baie strenger as wat geglo word deur mense wat dit probeer onderhou. Die grootste probleem om volgens die Wet te probeer leef is dat iemand nie kan kies en keur watter wette hulle wil gehoorsaam en watter nié. Die Wet is ‘n saamgestelde eenheid – deur selfs die kleinste een te breek maak dit ‘n person skuldig aan die hele Wet: [Jak 2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. 11 Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword]. Daarom is die persoon wat skuldig bevind word aan selfs die kleinste oortreding (soos om ‘m leun te vertel) ook strafbaar met dieselfde straf as iemand wat ‘n verskriklike misdaad gepleeg het (soos moord). Nou wie in hulle gesonde verstand wil deur so standaard geoordeel word?
Die Wet was nie net beperk tot die 10 Gebooie nie. Nadat God aan Israel die 2 klip tablette gegee het by die berg Sinai, het hy aan Israel ‘n total van 613 wette gegee (opgeteken van Eksodus tot Deuternomeum) wat hulle tot die laaste letter moes uitvoer, of in gevaar sou staan van erge straf. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie wette, met die volgende in gedagte: Enige iemand wat steeds eis dat ons volgens die Ou Testamentiese Wet moet leef, maar nie al hierdie dinge tot op die laaste letter uitvoer nie, is skuldig aan die hele Wet. Baie mense stry dat slegs sekere dele van die Wet steeds geld omdat die ander gedeeltes slegs as rituele beskou word. Jesus het dit egter duidelik gemaak dat ons nie ‘n enkele letter van die Wet kan wegvat nie: [Matt 5:18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie]. Kom ons kyk na daai wette:
[Lev 15:16-20 En as daar van ‘n man ‘n saadvloeiing uitgaan, moet hy sy hele liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. 17 Ook elke kledingstuk en elke vel waar die saadvloeiing op kom, moet in die water gewas word en dit bly tot die aand toe onrein. 18 En wat die vrou aangaan met wie ‘n man vleeslike gemeenskap het altwee moet ‘n bad neem en sal tot die aand toe onrein wees. 19 En as ‘n vrou ‘n vloeiing het, en die vloeiing in haar vlees bloed is, dan bly sy sewe dae lank in haar onreinheid; en elkeen wat aan haar raak, sal tot die aand toe onrein wees. 20 En alles waar sy in haar onreinheid op lê, sal onrein wees; en alles waar sy op sit, sal onrein wees]. Nou as mense wat steeds eis dat ons volgens die Wet moet leef, nie hulself isoleer vir 7 dae gedurende die bogenoemde toestande nie, dan is hulle skuldig omdat hulle die Wet gebreek het. Hier is nog een:
[Lev 11:2b Dit is die diere wat julle mag eet van al die viervoetige diere wat op die aarde is. 3 Alles wat onder die diere gesplitste kloue het, en wel heeltemal gesplitste kloue, en herkou dit mag julle eet. 4a Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: 7 (ook) die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie onrein is hy vir julle]. Daar gaan daai lekker Engelse ontbyt met kraaklekker spek (bacon).
[Lev 11:9 Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere dit mag julle eet. 10 Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is ‘n gruwel is dit vir julle]. Daar gaan kalamari by die venster uit!
[Lev 24:16a En wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig]. Wanneer laas het ons iemand gestenig omdat hulle God se naam ydellik gebruik het?
[Num 15:27 En as ‘n enkele siel in swakheid sondig (die Engelse vertaling sê “sin in ignorance” of “sin unintentionally”), moet dié ‘n jaaroud bokooi as sondoffer bring]. Wat van al die kere wat ons vergeet het om vir die armes te gee, nagelaat het om ons tiendes te gee (want ons het vergeet om geld kerk toe te bring), skottelgoed gewas het op die Sabbat, ens?
[Num 15:32 En toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle ‘n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak. 33 En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring. 34 En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie. 35 Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig.]. Nogsteeds geïnteresseerd in daai skottelgoed? Wat van inkopies doen op die Sabbat?
Die waarheid is dat vir ‘n gelowige het die Wet geëindig. Paulus het geskryf oor hoe sy hart verlang het vir die Israeliete wat steeds prober het om volgens die Wet te leef, selfs nadat Christus vir hulle gesterf het (en dieselfde is vandag nog op mense van toepassing wat onder die Wet wil leef): [Rom 10:1 Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. 2 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. 3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig (deur steeds aan die vereistes van die Wet te probeer voldoen), het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie (die geregtigheid van God word slegs bekom deur geloof). 4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo] (kommentaar my eie). Ons ontvang saligheid en God se geregtigheid nie deur volgens die Wet te prober leef nie, maar deur in Christus te glo!
[Rom 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding].
In Genade
Andre van der Merwe




