Die Ou Testamentiese Wet… Vervul
07.22.11

Mense wat eis dat die Ou Testamentiese wet steeds van toepassing is, kan opgedeel word in verskillende groepe:
1) Dié wat glo dat al die wette steeds geld.
2) Dié wat glo dat gelowiges nie geoordeel sal word op grond van die Ou Testamentiese wet nie, maar dat dit steeds dien as ‘n morele kompas wat hulle help om nie in sonde te verval nie.
3) Dié wat glo dat die die wet in twee verskillende seksies opgedeel kan word, naamlik morele wette en seremoniële wette, en dat die seremoniële wette weggeval het, maar dat die morele wette steeds gehoorsaam moet word.
Groep 1
Vir die wat binne die eerste groep val, het die Bybel ongelukkig terleurstellende nuus:
Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. (Jak 2:10)
Die straf vir sonde is geweldig streng, naamlik die dood (Romeine 5:12 & 1 Korintiërs 15:56). Die Bybel leer ons ook dat geen mens ooit instaat is om geregtig voor God se oë te staan deur hulle vlak van gehoorsaamheid aan die wet nie:
…aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.. (Rom 3:20)
Maar die apotel Paulus wys dan in die volgende verse hoe ons wél volkome vergewe en geregtig voor God kan staan:
Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; (Rom 3:21-22 , klem bygevoeg)
Die wet het ‘n fisiese standard verskaf waarteen ‘n persoon se heiligheid teen gemeet kon word. Dit was ‘n kontrak wat God in bloed verseel het met die volk van Israel – slegs met hulle. Hoe weet ons dit? Want ons sien menigmaal hoe God ten gunste van Israel opgetree het teen ander nasies (die Moabiete, Amalekiete, Filistyne, Siriërs, ens).
In vandag se wêreld, wanneer die voorwaardes van ‘n kontrak tussen twee partye vervul is, is die kontrak voltooi. Die kontrak word nie vernietig of ontbind nie, dit is slegs vervul. Dit is presies wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het:
Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. (Matt 5:17)
En aangesien Christus die wet vervul het en die kontrak wat God met Israel gesluit het vervul het, is die gevolge wanneer ons versuim om die voorwaardes van daardie kontrak (die wet) na te kom, irrelevant. God oordeel mense nie volgens hulle vermoë om die voorwaardes van ‘n kontrak na te kom wat reeds vervul is nie.
Groep 2
Die wet is nie ‘n hulpmiddel vir ‘n morele leefstyl nie. Dit kan nie en het nog nooit iemand gehelp om op te hou sondig nie, want dis nooit waarvoor dit bedoel was nie. Die doel van die wet wat om die mensdom bewus te maak van hulle interne sonde probleem (hulle sondige natuur), sodat wanneer hulle besef dat hulle nooit die ewige lewe kon bekom deur hulle eie vlak van heligheid nie, dit hulle sou wys na Jesus vir verlossing. Hierdie sondige natuur sou dan geestelik uit hulle uit besny word (Kollosense 2:11) en vervang word deur ‘n splinternuwe, wedergebore gees wat 100% perfek, geregtig en heilig gemaak is. Die wet was slegs ‘n rigtingwyser wat na Jesus gewys het – dis effens onnosel om kamp op te slaan langs ‘n rigtingwyser, is dit nie?
Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad (bewustheid) meer sou word. (Rom 5:20a, annotasie bygevoeg)
Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge… (Gal 3:19a)
Die gewoonte om die voorskrifte van daardie antieke Joodse reel-sisteem te onderhou om te probeer om oorwinning te kry oor vleeslike begeertes en gewoontes, is kragteloos teen die aanslae van sonde. Deur te probeer om sonde te oorkom deur die wet te onderhou sal slegs die effek hê om ons te wys hoe vêr ons tekort val van die wet se voorskrifte.
Die enigste manier om sondige gewoontes te oorkom is om gevestig te wees in die openbaring van hoeveel God ons liefhet en day Hy ons as volkome geregtig sien. Sy genade het afgereken met al ons sondes en Hy het belowe om nooit weer aan dit te dink nie (Hebreërs 10:17). Wanneer on sweet hoeveel genade God aan ons bewys het, sal dit ons bekragtig om enige sonde te kan oorkom.
Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. (Rom 6:14)
Groep 3
Niemand in hierdie groep (diégene wat eis dat die “seremoniële wette” weggeval het) het nog ooit die moeite gedoen om ‘n lys op te trek wat presies aandui watter van die wette oorgebly het nie. Die waarheid is dat God Homself ook nooit hierdie tipe onderskeid gemaak het tussen enige van die wette wat Hy ingestel het nie. In teendeel, Hy het gesê:
“Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.” (Deut 12:32)
En tóg vind ons allerhande soorte godsdienste wat gebasseer is op Judaïsme wat deesdae opspring, met nie-Joodse mense wat probeer om terug te keer na hulle “Joodse wortels” toe.
Israel het nooit ‘n intieme verhouding met God verwelkom nie (wat eintlik al is wat God van ons wil hê), want hulle het altyd vir Moses gestuur om met God te praat namens hulle (Eksodus 20:19). Soorteglyk wil dit deesdae voorkom dat wanneer mense nie vervulling in hulle verhouding met God kan kry nie, dan maak hulle allerlei slim argumente op om Sy goedkeuring te probeer verdien deur een of ander reël-nakom stelsel. Die ironiese sy van hierdie neiging is dat sedert die Ou Testamentiese wet gans te moeisaam en tydrowend is om na te kom, formuleer hulle dan hulle eie weergawe van die wet en besluit dan sommer by hulleself watter wette hulle kan hou en watter hulle kan uitgooi.
Vanaf Eskodus 20 tot aan die einde van Deuternomium was daar ‘n total van 614 wette aan die nasie van Israel gegee. Net soos die wet baie spesifiek was oor wat om te doen en wat om nié te doen nie, het dit ook baie spesifieke instruksies bevat oor hoe om straf te vermy wanneer ‘n wet wél gebreek is. Straf is hoofsaaklik vrygespring in die vorm van rituele en offers. Baie van die hedendaagse variasies van Judaïsme (insluitend die groepe wat daarop aandring om Jesus en God op hulle Hebreeuse name te noem, maar wie se lewens sonder die gawes en vrugte van die Gees is) het verkies om egter nie hierdie offers as deel van hulle mensgemaakte geloof-sisteem in te sluit nie, en tóg eis hulle onverbiddelik om volgens God se wette te leef. Wie is besig om wie te kul hierso?
Nietemin, om hierdie mense te akkommodeer en aan hulle te wys dat hulle nie slegs die rituele en offers verontagsaam nie, maar ook elke dag in hulle lewens baie van die ander (morele) wette breek wat bevat word in die Ou Testament, kom ons kyk na sommige van die wette:
Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: …ook die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie onrein is hy vir julle. (Lev 11: 4, 7)
Enige vorm van vark, insluitend spek (bacon) en ham, is streng verbode volgens die wet. Daar gaan daai lekke Engelse ontbyt of daai ham en kaas toebroodjies by die deur uit!
Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie ‘n gruwel is dit vir julle. (Lev 11:12)
Geen kalamari toegelaat nie, baie jammer!
En as daar van ‘n man ‘n saadvloeiing uitgaan, moet hy sy hele liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. En wat die vrou aangaan met wie ‘n man vleeslike gemeenskap het altwee moet ‘n bad neem en sal tot die aand toe onrein wees. (Lev 15:16, 18)
Mans en vrouens moet hulleself heeltemal afsonder van enige ander mense vir ‘n hele dag elke keer nadat hulle seksuele omgang gehad het. Dit beteken dat baie meer siekverlof ingesit sal moet word of selfs gebroke huwelike as gevolg van egpare wat hulself van seksuele omgang met mekaar weerhou.
Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die rand van jou baard nie skend nie. (Lev 19:27)
Alle mans sou moes rondloop met baarde. Indien enige iemand eis om volgens die wet te leef, maar hulle skeer hulle baard, is hulle besig om God se wette te breek!
Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie. (Exo 35:3)
Daar sal geen braai wees na die rugby by vriende se huise op Saterdag nie, want streng gesproke is die Sabbat veronderstel om op ‘n Saterdag onderhou te word.
En ‘n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie. (Lev 19:19b)
Dit sou beteken dat ons hope van ons klere sou moes uitgooi, aangesien ‘n groot gedeelte van die klere in enige iemand se klerekas gemaak word uit ‘n mengsel van katoen en polyester.
Dit raak eintlik belaglik, doen dit nie? Maar alle lof aan Jesus omdat Hy aan al die vereistes van daardie antieke reël-stelsel voldoen het en daardeur die mensdom vrygestel het om ‘n lewe te leef wat gelei word deur die Gees, en nie deur reëls nie:
Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. (Gal 4:4-5)








