In die Hemel saam met Christus… Nou!
10.28.10
[Ef 2:4 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered – 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus].
Hierdie stelling van Paulus het baie van ons al ons koppe laat krap. Ons is dan tog met albei ons voete stewig op die grond van moeder aarde geplant! Hoe kan ons moontlik in twee plekke gelyk bestaan? Jesus was die eerste person wat openbaring en ervaring van hierdie supernatuurlike verskynsel gehad het: [Joh 3:12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? 13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is]. Hier was Jesus besig om reg langs Nikodemus te staan, en Hy sê dat hy op daardie einste oomblik ook in die hemel is.
Dit word ‘n bietjie duideliker wanneer ons na die gebed kyk wat Jesus gebid het vir al die gelowiges voordat Hy gekruisig is: [Joh 17:20 Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – 21 dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22 En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. 23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het]. Kom ons kyk ‘n bietjie nader na die stellings wat Jesus gemaak het in hierdie gebed:
Hy het gestel dat:
1) Die Vader is in die Seun en die Seun is in die Vader (v21)
2) Omdat die Seun aan Sy volgelinge die glorie gegee het wat Hy van Sy Vader ontvang het, het hulle ook een geword, net soos die Vader en die Seun een is (v22)
3) Die Seun is in Sy volgelinge (v23)
4) Die Vader is in die Seun (v23)
5) Alle gelowiges sou volkome een gemaak word (v23)
Hy het gevra dat:
6) Alle gelowiges een sou word (v21)
7) All gelowiges een sou word in die Vader en die Seun (v21)
Na die kruis is die Helige Gees ook toegevoeg tot hierdie wonderlike, buitengewone, onskeibare eenheid binne en buite ‘n gelowige: [1 Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom].
So kom ons kry hierdie ding reg – die Vader is in die Seun, die Seun is in die Vader, die Seun is in die gelowige, die gelowige is een gees met God, alle gwloiges is een met mekaar en alle gelowiges is in de Vader maar ook in die Seun. Hierdie heerlike eenheid wat verby menslike wysheid strek kan slegs begryp word deur geloof. As die Seun van God sê dat ons een geword het met die Drie-Eenheid, wie is ons om te stry?
Terug na ons kern vers, dit is nou makliker om te verstaan hoe ons in die hemele saam met Christus kan sit, oftewel, in Christus sit, terwyl ons hier in die natuurlike dimensie ook bestaan. Omdat Christus in die hemel sit en ons een is met Hom en die Vader, sit ons dus ook in die hemel.
Ek wil graag afsluit met ‘n persoonlike getuienis. Toe ons nog in Perth (Australië) gebly het, een aand tydens ‘n selgroep byeenkoms saam met ‘n paar vriende van Freedom Life Fellowship, het my vriend Luke Ide ons almal in die kamer laat gemaklik raak en het hy aanbiddingsmusiek aangesit. Ek het op die vloer gelê en ‘n beeld gesien van myself waar ek by ‘n tafel smul wat gevul was met allerlei eksotiese eetgoed. Ek is toe weggevoer na die troonkamer en toe ek by Jesus se troon kom het Hy sag vir my geglimlag, opgestaan uit Sy troon en met ‘n onweerstaanbare glimlag my die geleentheid aangebied om so bietjie op Sy troon te sit.
Op daardie stadium het ek nog nie heeltemal besef presies hoé delikaat en diep geïntegreer ons lewens was nie. Effens uit die veld geslaan het ek dus toe Sy aanbod van die hand gewys, onder die indruk dat ek dalk ‘n elektriese skok of iets sou kry omdat ek op Sy troon wou sit. Op die heel minste het ek myself onwaardig geag vir so ‘n voorreg.
Jesus het egter aangedring en ek het myself uiteindelik sovêr gekry om op Sy troon te gaan sit, net om na ‘n paar sekondes weer op te spring en Hom te bedank vir die geleentheid. Hy wou my daardie aand egter iets veel groter wys as dit…
Na die tyd het ons almal opgestaan en gedeel wat ons ervaar het, en nadat ek almal van my ervaring vetel het, het Luke die volgende skrif gedeel: [Op 3:21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het]. Dit was te goed vir woorde!
Deur my geloof in Christus is ek as ‘n oorwinnaar gekroon: [1 Joh 5:4 Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof]. Ek is opgewek uit my vorige lewe (wat basies bestaan het uit ‘n dooie lewe vasgevang in sonde), na ‘n posisie van oorwinning in Christus, geskape in Sy beeld en gesete saam met Hom op Sy troon.
Dit is hoekom wanneer ons bid, bid ons vanuit oorwinning en nie vir oorwinning nie. ‘n Begrip van hierdie waarheid verander die manier waarop ons bid heeltemal – geen meer smeking en bedelary by God nie; ons beveel nou lewe en waarheid in ons situasie in!




