Moet Christene Hulle Sondes Bely (Deel 2) 1 Joh 1:9

05.16.09

Moet Christene Hulle Sondes Bely? (Deel 2) 1 Joh 1:9

Eerstens, let asseblief op dat ons NIE ‘n sondige leefstyl propageer nie. Ons moedig mense NIE aan om eenvoudig uit te gaan en allerlei onsedelikhede en skandelikheid te pleeg nie. Ons glo daarin om God te gehoorsaam en ‘n heilige leefstyl te leef, maar hierdie is slegs die vrugte. Die wortel (fondament) is om gegrond te wees in Genade en Geregtigheid, om te weet wie ons is in Christus. So kom ons begin met hierdie week se boodskap.

[1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig].

Hierdie vers moet inkonteks gelees word van Johannes se hele brief – geskryf aan ‘n groep gelowiges wie se midde geïnfiltreer is deur volgelinge van “Gnostisism”. Johannes is baie sagmoedig wanneer hy die Christene aanspreek, en noem hulle “my kinders”. Maar in baie dele van sy brief, wanneer hy die leerstellings van die “Gnostics” weerspreek, word hy baie beskermend teenoor sy broers en susters in Christus, en sy woorde nogals skerp. Teen die tyd wat Johannes hierdie brief geskryf het, het die Gnostics reeds die kerk verlaat, [1 Joh 2:19 Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.], maar oorblyfsels van die “Gnostisism” leerstellings was steeds besig om die Christene wat oorgebly het, duermekaar te maak.

“Gnostics” is mense wat glo dat die skepping fundamenteel verwronge is, en deur ‘n onperfekte skepper gemaak is, ‘n beweging waaruit die “Church of Jesus Christ of the Latter Day Saints” of “Mormons” onstaan het. Hulle glo ook dat daar nie so ding soos sonde in die wêreld bestaan nie, en as ‘n ONGELOWIGE dat jy nie jou sondes hoef te bely om wedergebore te word nie.

Ten spyte van die feit dat die boeke van 1 – 3 Johannes aan die kerk geskryf was, is 1 Joh 1:9 nie ‘n bevel vir mense om in selfbejammerende sak en as te gaan sit nie, dit is egter slegs ‘n stelling om die valse leerstellings van die Gnostics te weerspreek. Daar was mense in Johannes se kerk (wat nog nie wedergebore was nie) wat in self-geregtigheid volhard het dat hulle nie hulle sondes hoef te bely om die ewige lewe te beërwe nie. Hulle was steeds bedrieg deur die leerstellings van die “Gnostics”, selfs al het die “Gnostics” reeds die kerk verlaat. Johannes het hierdie leuen weerspreek deur die volgende te sê: [1 Joh 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie].

En dan in die volgende vers openbaar hy hoe om gered te word: [1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig]. God sal hulle van ALLE ongeregtigheid reinig as hulle slegs bely dat hulle nodig het dat hulle sondes vergewe moet word. Indien 1 Joh 1:9 geskryf was aan die gelowige Christene (die wat alreeds gered is), sal dit teenstrydig wees met die volgende vers: [1 Joh 2:12 Ek skryf aan julle, my kinders, omdat die sondes julle vergewe is om sy Naam ontwil]. Hoekom sou Johannes mense beveel om hulle sondes te bely  as hy ‘n paar verse later sou sê dat hulle REEDS vergewe is? As dit so belangrike deel van die gelowige se leefstyl was om hulle sondes te bely, hoekom het die skrywer van die grootste gedeelte van die Nuwe Testament, Paulus die apostel, ons nie een keer beveel om dit te doen nie?

Onder die Nuwe Verbond is al ons sondes (van die verlede, hede en toekoms) reeds vergewe. Toe Jesus Sy dissipels (wat nog onder die Ou Verbond was op daardie stadium) geleer het om te bid, het Hy hulle geleer: [Matt 6:12 en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe]. Maar onder die Nuwe Verbond van Genade is ons motivering om ander te vergeef, heeltemal anders. Ons vergewe nie meer sodat God ons kan vergewe nie, maar ons vergewe nou omdat ons REEDS vergewe is. [Kol 3:13 ...soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen].

Eindelose teologiëe is al geformuleer deur die moderne kerk oor om ons sondes te bely, almal gebasseer op hierdie een vers (1 Joh 1:9). Dis eintlik verbasend as ons dink dat daar geen ander verse in die hele Nuwe Verbond is wat ons beveel om ons sondes aan God te bely nie! Dis selfs nog meer verbasend as ons besef dat hierdie enkele vers nie bedoel was vir Christene wat in die vergifnis van God vertrou nie, maar vir self-geregtige mense! Daar is mijoene mense wat hulle rug gekeer het op Jesus en die kerk verlaat het, nie omdat hulle slegte of sondige mense is nie, maar omdat hulle opregte mense is wat vir jare en jare ‘n mengsel geleer is van Ou Testamentiese Wette  en Nuwe Testamentiese Genade. Hierdie mense het op ‘n plek gekom waar hulle gevoel het dat hulle en ander Christene sulke huigelaars is, dat hulle tekortkominge en foute so groot is, dat hulle terneergedruktheid hulle weg van Jesus af gedryf het in die wildernis in. Hulle het opgegee op Jesus en Sy Woord, alhoewel hulle Hom steeds in hulle harte liefhet.

Maar jy mag dalk vra, “ Hoekom sou God nie wou hê dat ons ons sondes moet bely nie? Op die ou einde maak ons almal tòg foute!” Die antwoord is eenvoudig: Om die heeldag rond te loop en al die slegte dinge te onthou wat ons gedoen het, sal ons nie nader aan God bring nie! Jesus het alreeds die volle prys betaal sodat ons ongebroke gemeenskap met die Vader kan hê. Dit beteken dat wanneer ons ‘n fout maak, breek dit nie ons gemeenskap of posisie van geregtigheid voor God nie. Jesus was verlaat deur die Vader aan die kruis sodat ons dit nooit hoef te ervaar nie! Beteken dit dat ons net uitgaan en ‘n leefstyl van roekelose sondigheid en skaamtelose immoraliteit leef? Nee!! Maar dit beteken verseker dat God wil hê ons moet moet vrymoedigheid hê voor Hom, en meer bewus wees van ons geregtigheid as van ons tekortkominge en foute. [Heb 10:19 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons 'n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water].

Hoe kan ons vrymoedigheid hê voor God as ons op ons kniëe moet rondkruip en pleit vir vergifnis elke keer as ons bid? As ons nie eers voor God vrymoedigheid kan hê nie, hoe kan ons eers droom daarvan om voor ‘n blinde persoon te staan en te sê: “Blinde oë gaan oop in die Naam van Jesus Christus!” Ons sal altyd voel dat God ons nie wil gebruik nie want ons het te veel sonde in ons lewe. Geen hoeveelheid trane, belydenis, herinnering van sonde, emosionele teistering of einige iets wat ons kan doen kan ooit iets byvoeg tot die volmaakte werk van die kruis nie, waar ons sondes vergewe is, eens en vir altyd.

So wanneer jy jouself bewus van jou sondes vind, sê eenvoudig: “Dankie Jesus vir die vir die perfekte werk van die kruis wat my sonde volkome verwyder het. Dankie Heilige Gees dat U my oortuig van geregtigheid, nie my eie nie, maar die geregtigheid aan my gegee as ‘n geskenk (2 Kor 5:21) en ek loof U dat niks wat ek ooit kan doen dit kan verander of my ooit kan verwyder van U liefde nie!! “Genade beteken nie die ontkenning van foute in ons lewe nie – dit is ‘n gevaarlike ding om te doen – maar Genade verwyder die straf en skuld vir daardie sonde” (Tony Ide – Freedom Life Fellowship, Perth, Australia). Genade is wat ons waardig maak!

Rob Rufus (City Church International, Hong Kong) het die volgende briljante argument voorgehou: “Kom ons maak vir ‘n oomblik asof Christene hulle sondes MOET bely teenoor God. Dan ter wille van integriteit moet hierdie mense asseblief konstant bly. Hulle moenie slegs daardie sondes bely wat hule dink groot sondes is nie, maar ook AL die klein sondes. Rom 14 sê dat ENIGE iets wat ‘n Christen nie uit die geloof doen nie, is sonde [Rom 14:23 ...en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde]. Dit beteken dat ons elke liewe klein dingetjie wat ons doen moet monitor deur die hele dag, en as ons onsself vind dat ons iets doen wat NIE uit die geloof is nie (eet sonder geloof, werk toe ry sonder geloof, kerk toe gaan sonder geloof, jou skoene uittrek sonder geloof, met jou kinders praat sonder geloof, ens.) dan is dit sonde, en ons moet stop wat ons ookal op daardie oomblik doen en bely dat ons gesondig het, want nou het God Homself van ons afgesny, ons gemeenskap met Hom is gebreek en ons staan gevaar om in die hel se vuur gegooi te word omdat ons gesondig het.”

So om af te sluit, die Bybel leer alle ongelowiges om hulle sondes te bely teenoor God om wedergebore te word en in Christus in te kom, maar die Byble leer nie wedergebore gelowiges om hulle sondes teenoor God te bely nie. Sien ook deel 1 van hierdie onderwerp op ons webwerf wat handel oor Jakobus 5:16.

Indien hierdie waarheid om jou sondes teenoor God te bely nog nie vir jou duidelik is nie, wil ons jou aanmoedig om die preek genaamd “Do Christians have to confess their sins to God?” deur Rob Rufus van die internet af te laai. Volg eenvoudig die volgende skakel (die datum van die diens is 6 Junie 2008): http://www.citychurchinternational.net/2008.html

In Genade
Andre van der Merwe

Share

Leave a Reply