Die “Eksterne God” Verskynsel

04.12.11

‘n Merkbare verskynsel in die meerderheid van georganiseerde Christelike byeenkomste is die manier hoe mense by God pleit (veral tydens “aanbiddings”- dienste) met woorde soos “Ons is honger vir U Here! Here ons is so dors vir U teenwoordigheid! Kom Here, vul hierdie plek met U teenwoordigheid! God ons is desperaat vir U!”

Dit vlieg reg in die gesig van wat Christus aan die kruis vermag het.

Die waarheid is dat gelowiges die blywende, inwonende teenwoordigheid dra van die Heilige Gees, wat ‘n persoon is. ‘n Persoon is òf teenwoordig òf hulle afwesig. Punt. En aangesien die Heilige Gees ‘n teken is van of iemand wedergebore is, beteken dit dat indien hulle nié die Heilige Gees het nie, hulle nodig het om in Jesus te glo en gered te word. God het die Heilige Gees gestuur om in ons te kom bly:

…julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. (Rom 8:9, klem bygevoeg)

Die Heilige Gees is nie Petrol Nie

In baie plekke word die Heilige Gees behandel asof Hy brandstof is. Op Sondae kom die mense kerk toe om weer hulle tenks opgevul te kry vir die week. Teen die volgende naweek is hulle tenks amper leeg en teen Sondag-oggend kan hulle amper nie genoeg krag bymekaarskraap om hulle uitgedroogde liggame weer kerk toe te sleep vir ‘n hervul nie.

Ons kan nie die helfte van die Heilige Gees hê nie – Hy bly òf in ons òf Hy doen nie.


Honger en Dors vir God?

Indien iemand meen dat hulle honger of dors is vir God, dan het hulle nodig om wedergebore te word, want dit is onmoontlik om honger en dors te wees vir iets wanneer jy deurweek is daarmee! Hier is wat die skrif sê:

En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. (Joh 6:35)

En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie. (Jes 58:11)

Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul. (Psa 107:8-9 GNB)

 

“Ons Verwelkom U in Hierdie Plek Heilige Gees!”

Wat sê ons éintlik wanneer ons in hierdie wyse bid? In 1 Kor 6:15-20 sien ons dat selfs wanneer die gelowiges met die tempel-prostitute seks gehad het, het die Heilige Gees hulle nie verlaat of van hulle af “gelig” nie. In vers 17 sê dit dat ons geeste letterlik met die Heilige Gees saamgesmelt het by wedergeboorte – daar is geen skeiding van wat God saamgevoeg het nie! Ja dit het Hom definetief gegrief om in ‘n situasie ingesleep te word waar Hy ‘n nabye toeskouer moes word van so ‘n dom daad, maar nie een maal in die hele Nuwe Verbond vind ons dat die Heilige Gees ‘n gelowige verlaat het nie. ‘n Gelowige word verseël met die Heilige Gees by wedergeboorte:

…in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (Ef 1:13, klem bygevoeg)

G4972 (sealed)
sphragizo? (sfrag-id’-zo)
From G4973; to stamp (with a signet or private mark) for security or preservation (literally or figuratively); by implication to keep secret, to attest: – (set a, set to) seal up, stop.

Dit is dieselfde beginsel as wanneer ingelegde kos vervaardig word – die goeie goed word aan die binnekant verseël vir varsheid.

So wanneer iemand bid vir die teenwoordigheid van God of vir die Heilige Gees om in ‘n byeenkoms “in te kom” wys dit eenvoudig dat hulle ‘n baie beperkte idee het van wat met mense gebeur wanneer hulle wedergebore word.

Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? (1 Kor 3:16)

In die Ou Testament het die Helige Gees op mense gerus of hulle beheer vir sekere tydperke en aan hulle bonatuurlike, kort-termyn eienskappe gegee (Num 11:25; 1 Sam 19:20; Rig 3:10; Rig 11:29; Rig 14:19), maar dit was altyd ‘n tydelike ding.

Onder die Ou Verbond – sisteem het die teenwoordigheid van God tempels en geboue ook gevul, maar onder die Nuwe Verbond is ons die tempels! ‘n Groter bewustheid van die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees word gereeld misgis vir een of ander eksterne teenwoordigheid. Wanneer ons gedurig na ‘n eskterne teenwoordigheid soek om ons te kom opvul, skep dit ‘n mentaliteit van tekortkoming by ons – ons hou aan om God te vra vir iets wat Hy reeds vir ons gegee het!


Herlewing Byeenkomste

Indien al die geld en tyd wat al aan sogenaamde “herlewing byeenkomste” spandeer is, eerder aangewend is om die evangelie na mense om ons uit te dra, was die wêreld al ‘n gans andere plek. Die vyand wil ons op ons gesigte hê en smeek vir iets wat alreeds volmaak is in Christus, sodat ons nie die evangelie na mense toe vat nie. Wat het ons om te wys vir al die jare se uitroep vir herlewing, die afbreek van vestings in die hemele en eindelose ontmoetings om die Here te smeek vir genade?

Wanneer ons verstaan dat God in ons woon en dat ons EEN gees is met Hom, dan sal allerlei bygelowe staak, soos om te bid vir oop hemele, gebede vir God om op te daag, die soek van tekens en manifestasies om te bevestig dat God wel besig is om te “beweeg” ens. Mense sal begin om te besef dat alles wat hulle ooit sal nodig hê om te groei, te lewe, wonderwerke te doen, sukses te behaal en die waarheid te ken, reeds binne-in hulle is!


Fokus Na Binne!

Hiermee ontken ons nie die alomteenwordigheid van God nie, maar om te dink dat ons ‘n meerdere mate van gees-vervulling kan ervaar grens aan bygelowigheid. God het aan ons die hele Heilige Gees gegee, nie net die klein toontjie of die boonste of onderste helfte nie.

God is oral teenwoordig en kragtig, maar mense wil die besef en verantwoordelikheid ontduik dat al die hulp wat hulle ooit sal nodig het reeds binne hulle is.

 

In ons volgende boodskap sal ons kyk na die baie kontraversiële saak van om “gedurig vervul” te wees met die Heilige Gees. Die gebeutenisse in Handelinge 4 plus ‘n paar ander skrifte is al telkemale geïnterpreteer in die sin dat dit ons dade is wat bepaal tot watter “graad” ons met die Heilige Gees vervul is, wat dit natuurlik weer alles in menslike werke verander. Dit is eintlik heel vreemd om te glo dat ons leeg kan raak van ‘n Persoon, wat presies is wat die Heilige Gees is.

Share

Leave a Reply