Die Gelykenis van die Verlore Seun (Luk 15)

06.08.09

Die Gelykenis van die Verlore Seun (Lukas 15)

Twee ander name vir hierdie gelykenis kon gewees het “Die gelykenis van die afgunstige ouer broer” (die houding van ‘n groot gedeelte van die kerk vandag) of “Die gelykenis van die Liefdevolle Vader”. Let wel dat die seun was eers ‘n SEUN voordat hy die “verlore seun” geword het. Dit impliseer dat Jesus nie gepraat het van ‘n ongelowige wat vir die eerste keer tot bekering kom nie, maar oor ‘n wedergebore gelowige wat uit sy vader se huis uitgegaan het om volgens die begeertes van sy vlees (on-hernude verstand) te lewe. Soos wat ons duidelik volgens hierdie gelykenis kan sien, toe die seun homself bejammer en begin sleg voel oor hoe onwaardig hy is oor die slegte dinge wat hy gedoen het (klink dit bekend?), het sy Vader hom nie enigsins minder liefgehad nie. Inteendeel toe hy terugkeer huis toe wou sy Vader nie eers na sy belydenis luister nie, maar het hom eenvoudig oorweldig met met soene en liefkosings uit Sy hart van liefde. Ons vergeet soms dat God ons alreeds al ons sondes (in die verlede, hede en toekoms) vergewe het: 2 Kor 5:19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie… en dat Hy altyd op die punt is om ons te oorval met nog ‘n vloed van Sy goedheid.

Hierdie gelykenins illustreer ook dat ons as wedergeborenes onderworpe kan leef aan die wette van hierdie wêreld indien ons in ongeloof leef in God se beloftes. Ja God het ons waardevolle beloftes gegee in Sy Woord (om ons te seën, oorvloedig te maak, ens.) maar ons moet in dit glo om dit te ontvang. Gal 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. Hierdie verderf verwys na om verlies te lei in hierdie aardse lewe. As ons in die vlees saai sal ons verstand NIE hernu word nie, sal ons NIE in die beloftes van God wandel nie (want ons sal volhard in ongeloof) en NIE hierdie lewe tot sy volste kan lewe in ons Vader se huis nie. Maar selfs wanneer ons struikel en iets doen wat die wêreld as een of ander GROOT sonde beskou (die verlore seun het die helfte van sy Vader se geld spandeer, saam met prostitute geslaap, en alles wat hy gehad het in wellus deurgebring) is daar steeds genade op gendade vir ons van God af. Rom 5:20b …en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword;

Soos die ouer broer mag mede kerkgangers dalk ‘n Chrsiten oordeel wat ‘n klomp foute gemaak het, maar God sal nooit Sy kinders oordeel of ooit weer kwaad wees vir hulle nie. Jes 54:9 Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie. 10 Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.

Net soos baie Christene vandag, het die ouer broer, toe hy sy Vader sien genade bewys aan ‘n persoon wat dit nie verdien nie, kwaad en afgunstig geword. Dit is wat om onder die Wet te wees aan ‘n persoon doen. Die self-geregtiges werk en werk hulle agterstewes af vir God en dink dat Hy hulle dit verskuldig is om hulle te seën, lief te hê en te onderhou. Kyk na die ouer broer se woorde in Luk 15:29 …Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie… En dan wanneer God iemand seën wat dit nie verdien nie (“Genade” is om iemand iets te gee wat hulle nie verdien nie) word die self-geregtiges kwaad en jaloers en hulle haat daai persoon. In pleks daarvan moet hulle eerder besef dat nie een van ons dit in die eerste plek verdien nie, oor dit kom en bly word!! Wooohoooo!!

Luk 15:25 En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. Op hierdie oomblik is dit wat in die hemel besig is om te gebeur. Daar is musiek en dansery in ons Vader se huis! Dit laat jou nogals wonder hoe so baie kerke so lewensloos, konserwatief, godsdienstig, somber en introspektief kan wees op Sondag-oggende… Laat ons daarom God loof vir Sy Genade en daagliks “bak” in Sy teenwoordigheid soda tons verstand hernu kan word en verander word in die beeld van Sy gelykvormigheid. En die belangrikste van alles: Moenie vergeet daar is ‘n partytjie aan die gang in die hemel nie! God is gelukkig, Hy is in ‘n goeie bui!!!

 

In Genade Andre van der Merwe

www.NewCovenantGrace.com/afrikaans/

Share

Leave a Reply