Is Genade ‘n Lisensie Om te Sondig?
02.02.10
Is Genade ‘n Lisensie Om Te Sondig?
Hierdie onderwerp het homself in die vorm van vele vrae en stellings voorgedoen in die verlede, soos byvoorbeeld die volgende:
• Wanneer Genade gepreek word, lei dit tot ‘n sondige leefstyl?
• Sal mense nie uitgaan en roekeloos sondig as hulle te “diep” in die Genade boodskap inbeweeg nie?
• Ons kan nie Genade preek aan nuwe / jong Christene nie, want hulle is nog nie volwasse genoeg om met sulke vryheid vertrou te kan word nie.
• As ons die Wet van gelowiges afhaal, gee dit hulle ‘n lisensie om te sondig.
Al hierdie stellings vlieg reg in die gesig van wat die Bybel ons leer oor genade:
[Tit 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe].
Eerstens, laat ons bedink hoe Genade ‘n persoon se denkwyse beïnvloed. Wanneer ons verstaan wat die boodskap van Genade alles behels (hoe God die sondes van die hele wêreld vergewe het (Heb 10:17), die geskrewe kode van die Wet uitgedelg en weggeruim het (Kol 2:14), mense vrygemaak het om om te leef sonder vrees vir straf en oordeel (1 Joh 4:18), hoe gelowiges bekragtig word om vrymoedigheid te hê om God te nader (Heb 10:19-21), dat ons vertroue kan hê dat God nooit weer kwaad sal wees vir ons nie (Jes 54:9-10) en vele ander waarhede soos hierdie), is dit duidelik dat ‘n goeie begrip hiervan inderdaad ‘n gelowige NIE sal motiveer om te wil sondig nie, maar eerder sal inspireer om meer dankbaar te wees teenoor God vir alles wat Hy gedoen het, om ‘n lewe te leef waardig van die offer wat deur Jesus gemaak is en om goddelose optrede te vermy, soos gestel in Tit 2:11-12 (bo).
Meestal kom die argumente en vrae teen die Genade boodskap, soos die voorbeelde hierbo, van mense wat nie noodwendig bang is dat hulleself mislei sal word om meer sonde te wil doen nie, maar hulle argumente is vir ander “swakker” Christene wat in hulle opinie nog nie die “volwassenheid” besit om die verantwoordelikheid te hanteer wat met sulke vryheid gepaard gaan nie. Daarom eis hulle dat die waarheid van die Genade boodskap geleer word saam met ‘n gesonde dosis Wet ingemeng om hierdie ander “swak” Christene teen die gevare van sonde te waarsku. Hoe ironies is dit dan nie dat die Bybel ons leer dat sonde nie vermeerder word deur Genade nie, maar eerder deur die Wet: [Rom 5:20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword]. Genade het in werklikheid ingekom en die sonde verwyder wat meer oorvloedig gemaak is deur die Wet!
So vir iemand om te sê dat Genade ‘n lisensie is om te sondig, dien dit slegs om so ‘n persoon se wanbegrip te ontbloot van wat Genade eintlik beteken. Dit openbaar dat hulle nie verstaan dat die krag van die Heilige Gees (wat so ‘n gelowige oortuig van hulle volkome 100% geregtige status voor God) binne-in ‘n gelowige ‘n onmeetlik sterker bekragtiging is vir “goeie optrede” as om iemand te dreig met die Wet nie. As gevolg hiervan kan die self geregtiges dus almal maar ontspan en tot terme kom met die feit dat die Heilige Gees vertrou kan word met die hernuwingsproses in die lewe van ‘n gelowige: [Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus]. Niemand het ons aangestel as mekaar se morele polisieman nie, so hoe kan ons ooit selfs probeer om daardie funksie aan te neem?
Die waarheid is dat Genade nooit verlaag kan word tot ‘n “aanvaarbare” standaard om die identiteitsprobleme van selfgeregtiges te akommodeer nie. As gevolg van die ekstreme karakter van die Wet, het Genade nodig om ook in die suiwerste vorm gepreek te word sodat mense vrygemaak kan word van die gif van “werke-gebasseerde” denkwyses.
In Genade
Andre van der Merwe



