Jy Het Genoeg Geloof Deel 2 (die probleem van ongeloof)
09.21.09
Jy Het Genoeg Geloof Deel 2 (Die probleem van ongeloof)
Laas week het ons tot die gevolgtrekking gekom dat elke wedergebore Christen die volle maat van geloof ontvang het van God. God het ons hierdie geloof gegee as ‘n geskenk (Ef 2:8) en dit kan nie verander of wankel nie. ‘n Persoon met “groot” geloof het nie ‘n groter hoeveelheid geloof nie, hulle het eenvoudig meer geloof in werking as ander.
Nou natuurlik sal ons volgende vraag wees: “As ek God se geloof het, hoekom produseer dit nie vir my op die vlak wat God in Sy Woord belowe nie?” Wel eerstens omdat geloof op gereageer en uitgeoefen moet word, wat presies is wat dit sê in Jak 2:17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. 18 Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. Inteendeel jy kan die geloof van die Seun van God binne jou hê, maar as jy nie op dit reageer nie is dit so goed soos dood.
Nog ‘n rede hoekom ons nie ons geloof sien vrugte dra nie is as gevolg van ons ongeloof. Die siel (verstand), net soos die liggaam, leef op wat dit mee gevoer word. Indien ons ons verstand vul met die donker & dood op TV, die koerante, en wat ons sien gebeur in die wêreld om ons, sal ons nie ons verstand hernu volgens die waarheid van God se woord nie. Dan wanneer ons bid, selfs al bid ons met geloof, sal die ongeloof in ons verstand daardie geloof teenwerk. So die Christen-lewe is dus ‘n passie vir intimiteit met God, om Hom persoonlik en werklik te leer ken soos wat Hy Homself in Sy Woord openbaar, wat ook die wonderlike by-effek het dat ons verstand hernu word en skoongespoel word van ongeloof.
In Lukas 9 het Jesus Sy dissipels uitgestuur Luk 9:1 En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. 2 En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak. Hulle het toe uitgegaan en dit gedoen, en hulle het regtig goeie resultate gesien! Luk 9:6 En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie verkondig en siekes gesond gemaak. Maar toe kom daar ‘n pa wie se seun deur ‘n demoon besete was, wat hulle nie kon uitdryf nie. Luk 9:38 En daar roep ‘n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste. 39 En kyk, ‘n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom. 40 En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie.
Die dissipels het Jesus agterna gevra hoekom hulle nie die demoon kon uitdryf nie, en Jesus het hulle geantwoord (dieselfde skrifgedeelte uit Mark 9): Mark 9:29 En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie. Nou Jesus het nie bedoel dat hulle spesiaal moes uitgaan en vas en bid om hierdie demoon te kon uitdryf nie. Hy het ook nie bedoel dat hierdie ‘n “tipe” demoon was wat slegs deur te bid en te vas uitgedryf kon word nie, want as dit is wat jy glo dan sal amper elke demoon of siekte wat jy uitdryf vir jou sê “Ek is die tipe demoon wat slegs kan uitgaan deurdat jy bid en vas”. As jy kyk wat Jesus in die eerste plek vir die dissipels gesê het toe Hy hoor hulle kon nie die demoon uitdryf nie: Mark 9:18 …en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie. 19 Toe antwoord Hy hom en sê: “O ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe”. Jesus het sy dissipels (wat sopas van hulle reis teruggekom het en goeie resultate gesien het), “ongelowige geslag” genoem.
En dan sien ons ook die pa van die seun met die demoon erken dat hy ‘n probleem met ongeloof het: Mark 9:23 En Jesus sê vir hom: Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. 24 En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!
Jy sien dat die grootste probleem nie is dat mense NIE geloof het nie. Ons het almal geloof, dis net dat ons ‘n hengse klomp ongeloof het wat ons geloof teenwerk. Jesus het gesê as ons geloof die grootte van ‘n mosterdsaadjie het kan ons vir ‘n berg beveel om homself in die see te werp. Kom ons lees dieselfde skrifgedeelte uit die boek van Matteus:
Matt 17:14 En toe hulle by die skare kom, gaan daar ‘n man na Hom en val voor Hom op die knieë en sê: 15 Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water. 16 En ek het hom na u dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie. 17 Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My. 18 Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af. 19 Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie? 20 En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie. 21 Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.
So hoekom het Jesus hulle vertel dat hulle dit slegs kon doen deur te bid en te vas? Wel wat dink jy gebeur wanneer ons bid en vas (en loof en prys, kerk toe gaan, Bybel lees, ens.)? Ons raak ontslae van ons ongeloof!! Jou geloof word nie meer nie, want onthou ons het alreeds die geloof van God, en geloof die grootte van ‘n mosterdsaadjie sal ‘n berg beweeg. Maar ons vul ons gedagtes met soveel gemors elke dag, en fokus op ons depressiewe omstandighede en NIE op God nie, dat dit geen wonder is ons het geen krag nie.
Een laaste punt wat ons mot aanspreek in die kerk: Dit is baie wreed om vir ‘n siek persoon te vertel hulle kan nie genees word nie want hulle het te veel ongeloof. In die Bybel sien ons dat Jesus, as ons perfekte voorbeeld, ALMAL genees het wat na Hom toe gekom het, maak nie saak of hulle ongeloof gehad het of nie. Hand 10:38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. Ja Jesus het nie baie mense in sy eie dorp, Nasaret, genees nie, maar dit was nie omdat hulle ongeloof Sy geloof geneutraliseer of teengewerk het nie. Nee dit was omdat baie van hulle aanstoot van Hom gevat het, en Hom slegs gesien het as “Josef se seun”. Daar het gevolglik nie baie van hulle na Hom toe gekom vir genesing nie, maar die wat wel gekom het het steeds genees geword! Dus kan ons sien dat Hy steeds magtige werke gedoen het, maar slegs vir dié wat na Hom toe gekom het. Matt 13:54 En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan? Nou met wat ons hier bo bespreek het in gedagte, kom ons lees die volgende 2 verse: Mark 6:5 En Hy kon daar geen krag (wonderwerk) doen nie, behalwe dat Hy ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. 6 En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof. Daarop het Hy die dorpe rondom deurgegaan en geleer. Kan jy sien Hy het STEEDS dié genees wat na Hom toe gekom het??
Gevolglik kan ons opsom dat indien ons nie die beloftes van God in ons lewens sien vervul word nie, of as ons nie die siekes sien genees as ons vir hulle bid nie, is dit as gevolg van ONS ongeloof en onhernude verstand. God se krag is altyd aangeskakel; Hy het alreeds genesing, voorsiening & bevryding gegee saam met ons verlossing. Hierdie boodskap is egter ook nie ‘n roep vir Christene om terug te gaan in werke om te probeer ontslae raak van ongeloof nie, dit gebeur nie deur dit te probeer forseer nie. Onthou ons is almal steeds besig om te groei en te leer. Verstand hernuwing & bevryding van ongeloof is iets wat gebeur soos wat ons God eenvoudig geniet, ons harte vir Hom oopmaak en in Hom rus terwyl ons leef vanuit ons vanuit ons onwankelbare posisie van oorwinning. Moenie vergeet om die reis te geniet nie…
In Genade
Andre van der Merwe
www.newcovenantgrace.com/afrikaans



