Jy Het Genoeg Geloof Deel 1
09.14.09
Jy Het Genoeg Geloof (Deel 1)
Wanneer ons gebede bid soos die dissipels in Luk 17:5 Toe het die apostels aan die Here gesê: “Gee ons meer geloof”, doen ons dit dikwels omdat ons nie weet wat alreeds aan ons gegee is nie. Daar is 2 tipes geloof:
Eerstens is daar die tipe geloof wat sê “Ek sal dit glo as ek dit sien”, soos met Thomas in Joh 20:25 Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. Ons noem hierdie natuurlike of fisiese geloof, geloof wat gebasseer is op wat ons kan sien, proe, hoor, ruik en voel met ons 5 sintuie. Dan is daar die tipe geloof wat ferm geanker is in die Woord van God, wat nie wankel omdat ons nie die antwoord op ons gebede sien nie, geloof wat aanhou glo “Ek IS genees” want die Woord sê so, selfs al “voel” ek nog nie genees nie. Joh 20:29 Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.
Weet jy dat jy dieselfde geloof as die apostel Petrus het wat magtige tekens en wonders verrig het? 2 Pet 1:1 Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus. Inteendeel, weet jy dat ons dieselfde geloof het as Jesus? Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Die Engels sê “I live by the faith OF the Son of God” (KJV).
Hierdie geloof is aan ons gegee die dag toe ons wedergebore is, dit was ‘n geskenk: Ef 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit (die geloof) is die gawe van God (klem my eie). Nou sedert ons hierdie geloof as ‘n gratis geskenk ontvang het in die eerste plek, kan ons gerus wees dat God dit sal onderhou en vervolmaak ook. Heb 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof… Die Engelse vertalings sê “die Outeur en Vervolmaker van ons geloof”. Toe Jesus gesê het iemand is “kleingelowig” of dat hulle “groot geloof” het, het Hy nie verwys na die hoeveelheid geloof wat hulle het nie, Hy het verwys na die hoeveelheid geloof wat hulle in werking het, die hoeveelheid wat hulle beoefen.
Nou sommige mense sal hierdie leerring probeer teenstry deur 1 Kor 12 te kwoteer, en te sê dat die Gees slegs SEKERE gawes aan ons individueel skenk. 1 Kor 12:11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. Wel het jy al ooit oorweeg dat jy binne-in jou die Gees het wat AL die gawes het? Hierdie vers sê nie dat Hy slegs “sekere gawes” gee nie, nee die Heilige Gees sal aan ‘n persoon ENIGE van die gawes gee wat in daardie spesifieke situasie benodig word. Sien ook ‘n paar verse voor hierdie een: 1 Kor 12:6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.
Wanneer ons nuut in die geloof is, het ons nodig dat die Heilige Gees kom en ons bekragtig met met hierdie gawes van tyd tot tyd soos wat ons dit mag benodig in ons spesifieke situasie. In Paulus se brief aan die kerk in Korinte (wat ‘n “baba” kerk was) het hy die volgende geskryf: 1 Kor 3:1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie. En dit is hierdie selfde “baba” kerk met wie hy in 1 Kor 12 oor die gawes van die Gees gepraat het.
Maar wanneer ons in volwassenheid in Christus inkom, sal ons besef ons het al die gawes tot ons beskikking omdat ons VOLHEID in Christus ontvang het. Kol 2:9 Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; 10 en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; en ook Joh 1:16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
Jy sien die grootste probleem is nie dat mense nie geloof het nie. Wedergebore gelowiges het almal die geloof van God. En die geloof van God is eenvoudig dit: Geloof wat jou instaat stel om in dinge te glo wat jy nie met jou 5 sintuie kan waarneem nie. Jy het hierdie geloof nodig gehad om gered te word in die eerste plek – hoe anders sal jy kan WEET dat jou sondes vergewe is? Sonde wat vergewe en skoongewas is is nie iets wat jy kan sien nie, maar deur die geloof wat God ons gegee het kan ons dit glo en WEET dat ons vergewe is. Ek wil jou bemoedig en aanbeveel om die volgende preek van een van my helde van die geloof, Andrew Wommack, af te laai van die internet. Kliek hier: http://www.awmi.net/extra/audio/a01
Wel as ons dan God se geloof het, hoekom produseer dit nie vir ons in die area van finansies, gesondheid, ens. op die vlak wat God belowe in die Bybel nie? Volgende week sal ons hierdie vraag beantwoord, so bly gerus naby!
In Genade
Andre van der Merwe
www.newcovenantgrace.com/afrikaans





Andre
Wat ‘n absolute “blessing” is jy nie nou vir my gees-mens gewees nie. Dit is pragtig en baie leersaam uiteen gesit en dit dra baie salwing.
Mag God jou trou bewaar.
Groete in Jesus