Hoekom Godsdienstiges Teen Genade Is
12.10.10
Soos wat die asemrowende geur van Genade aanhou om die nasies van die aarde te deurkruis teen ‘n onkeerbare spoed, is godsdienstiges en predikers van die wet besig om hulle hakke selfs dieper in te skop soos wat hulle vasbeslote uitgaan om die waarheid teen te staan en dit selfs as godslastering af te maak. Hulle denominasies word selfs strenger gewaarsku om weg te bly van hierdie “verdraaing van die evangelie”. Ons kan egter begin om hulle paniek te verstaan as ons onsself in hulle skoene kon plaas vir ‘n oomblik.
Hier is ‘n boodskap wat so ‘n prediker se hele bestaan bedreig; ‘n evangelie wat sy eens passiewe gemeente bekragtig en bemoedig tot die vlak waar hulle dalk begin om hom in sy oortuigings uit te daag en in sekere gevalle hom selfs oortref in hulle vertoon van God se krag. Natuurlik gaan dit nie oor ‘n “wie kan die grootste wonderwerke doen – kompetisie” nie, maar in plekke waar manifestasies van die supernatuurlike so skaars soos hoendertande is, kan ‘n gelowige wat ewe skielik begin om siekes te genees en demone uit te dryf maklik as ‘n “bedreiging” gesien word. In gemeentes waar ‘n godsdienstige eerbied en vreesvolle “respek” vir God afgedwing word in pleks van vreugde, vryheid en liefde, word daar gefrons op die uitbundigheid wat gewoonlik gepaard gaan met mense wat openbaring ontvang van Genade.
Kom ons kyk na sommige van die redes waarom Genade uitgewerp en selfs as lastering in sekere sirkels beskou word:
1) Wanneer ons mense vertel dat al hulle sondes (verlede, hede en toekoms) reeds vergewe is, dan gee ons hulle ‘n lisensie om te sondig.
Die snaakste ding omtrent hierdie argument is dat mense in elk geval sondig, of hulle nou ‘n lisensie het of nie! Die verskil is dat onder Genade, het iemand die vrymoedigheid om reguit terug na God toe te hardloop as hulle ‘n fout gemaak het, want soos die verlore seun weet hulle dat die Vader se liefde hulle altyd terug sal verwelkom. Maar iemand wat onder die veroordeling van die wet lewe, sal eers ‘n week vat voordat hulle die moed bymekaar kan skraap om weer met God te praat en hulleself dan nogsteeds kruisig oor wat hulle gedoen het.
2) Predikers van die wet glo vas dat Christene “lui” word as Genade gepreek word. So instede van om die Nuwe Verbond te preek, preek hulle die vereistes van die Ou Verbond of ‘n mengsel van die twee om hulle mense “in toom” te hou.
Die probleem met hierdie banadering is dat dit ‘n liefdesverhouding afwater tot ‘n neerdukkende stel reels, met vrees vir straf of skulgevoelens as die motivering. Natuurlik mag daar dalk ‘n “oorgangsperiode” wees waar mense tot ‘n mate passief word soos wat hulle die streng vereistes van die wet van hulle lewens af voel lig. Maar net soos wanner ons iemand wat ons liehet sou wou romantiseer of behaag, so sal ons lewens begin om ons liefde vir God te weerspiëel soos wat ons meer en meer besef hoe lief Hy ons het! [1 Joh 4:19 Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het].
3) Die wet is aanlokkend vir die vlees en gee mense ‘n gevoel van selfgenoegdheid tydens die periodes wanneer hulle voel hulle was “gehoorsaam”.
Die probleem is dat waneer hierdie valse gevoel van sukses weggeneem word, bly daar niks oor om oor te spog nie. Instede is ons veronderstel om net te rus en glo in Christus se voltooide werk.[Rom 3:27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet]. In meeste mense se opinies is hierdie opsie egter te maklik, en wet-predikers soek gedurig vir redes hoe om te verdien wat God gratis aan ons geskenk het.
4) Genade verwyder al die verpligtinge wat ons teenoor God gehad het.
Wanneer iets gedoen word uit ‘n gevoel van verpligting, beskryf die Bybel dit as werk. En wanneer iemand vir iets werk, word die beloning ‘n verdienste genoem. Genade is anders. Christus het al die werk vir ons gedoen en deur geloof ontvang ons as ‘n gratis geskenk al die seëninge en guns wat Hy namens ons verdien het. Dus werk = verdienste en geloof = gratis geskenk. [Rom 4:4 Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste. 5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken].
Weereens is dit ‘n bitter pil om te sluk vir diégene wat altyd “hard wil werk vir God”. Die waarheid is dat ons God niks skuld nie, behalwe om te rus in Sy liefde vir ons en die Heilige Gees toe te laat om SY vrugte déur ons te laat manifesteer.




