Hemelse Skatte

11.18.09

Hemelse Skatte

Wat jy GLO bepaal WAAR jy die ewigheid sal spandeer (hemel of hel). Wat jy DOEN bepaal HOE jy die ewigheid sal spandeer (arm of ryk). Ja dit is moontlik om “arm” te wees in die hemel, en alhoewel almal in die hemel gelukkig sal wees, mekaar onvoorwaardelik lief sal hê en daar geen afguns of bitterheid sal wees nie, sal sekeres “ryker” in die hemel wees as ander (lees die res van die artikel as jy graag wil uitvind wat dit is om “ryk” te wees in die hemel).

Eerstens, kom ons bevestig net hierdie een punt: As jy in Jesus Christus glo as jou Redder en Saligmaker, SAL jy hemel toe gaan. Hierdie boodskap is NIE oor of jy hemel toe gaan of nie, dit neem aan dat jy wel DOEN. Hierdie boodskap is oor om ‘n beloning te ontvang vir jou WERKE.

Eerstens is daar diégene wat beweer dat almal gelyk sal wees in die hemel, alle dinge in gemeen sal hê en dat hulle nie omgee of hulle baie skatte in die hemel sal hê of nie, saloank hulle net hemel toe gaan! Alhoewel die eerste 2 stellings in deels waar mag wees, is daar definetief iets fout om te sê jy gee nie om oor skatte in die hemel te hê nie, siende dat Jesus self ons geleer het om skatte in die hemel bymekaar te maak: [Matt 6:19 Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie].

Die Nuwe Verbond is vol verse wat ons vertel ons sal beloon word vir ons werke:

[Op 22:12 En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees].
[1 Kor 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen].
Hierdie verse sê dat ons ‘n beloning sal ontvang vir ons werke, en as ons nie werke gedoen het wat ‘n beloning werd is nie, sal ons verlies ly en dit net-net self tot in die hemel maak. Ons sal amper die rook op ons agterstewe kan ruik, ha-ha!!

[2 Kor 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad]. Let op dat nie alle “goeie werke” beloon sal word nie. Goeie werke gedoen uit ‘n motief om daardeur geregverdig te word, of uit enige motief anders as GELOOF, sal verbrand word.

Hoe kan ons weet watter van ons werk sal beloon word? Dis alles oor die motief en geen mens kan die motief van ‘n ander mens se hart oordeel nie. [1 Sam 6:17 ...Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan]. En wat is ons motief veronderstel om te wees? [1 Kor 10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God]. Ons maak nie skatte bymekaar om ons eie rykom of koninkryk te bou nie, maar eerder die Koninkryk van God.

Die volgende voordiehand-liggende vraag is: Watse “skatte” praat die Bybel van? As selfs die strate van die hemel goue plaveisel sal hê, van watter nut sal ‘n oorvloed van besittings in die hemel wees? Die sleutel lê in die gelykenis van die getroue dienskneg. Toe die heer terugkom en hy vind dat die dienskneg sy 5 talente verdubbel het, was hy baie tevrede met hom: [Matt 25:19 En ná 'n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. 20 En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. 21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer].

Ons beloning in die hemel vir ons getrouheid in wat aan ons toevertrou is, is nie besittings nie: dit is verantwoordelikheid. Ons sal met meer verantwoordelikheid (genaamd “hemelse skatte of “ware rykdom”) toevertrou word in die hemel as ons onsself getrou hier op aarde bewys het. [Luk 16:10 Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. 11 As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?]

Na die tweede koms van Christus sal die gelowiges die aarde heers met Hom en dié wat getrou was tydens hulle tyd op aarde sal in posisies van hoër outoriteit aangestel word.

[1 Kor 6:2 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?]
[Op 5:10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers].
[Dan 7:27 Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees].
[Op 2:26 En aan hom wat oorwin en My werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. 28 En Ek sal hom die môrester gee].

Is die ewigheid ‘n tyd wanneer diégene wat steeds fisiese lewens op die aarde uitleef, onderdruk sal word deur heilige diktatorskap? Die werkwoord wat vertaal word “regeer” in Openbaring 2:27 is piomanei, afgelei van die woord vir ‘n herder (poimen). Dit is dieselfde woord wat deur die apostel Paulus gebruik word in Hand 20:28 om die sorg te beskryf wat ouderlinge aan die kerk van God moet betoon. Die staf of stok wat deur ‘n herder gedra is, was primêr vir gebruik om sy skape te beskerm, nie om hulle bang te maak of te straf nie.

In Genade
Andre van der Merwe

Share

Leave a Reply