Hernu Jou Verstand

12.01.09

Hernu Jou Verstand

Toe ons wedergebore is, het God ons gees 100% geregtig en heilig geskep volgens die beeld van Christus. Die laaste gedeelte van Efesïers 4 praat van ons gedrag teenoor ander mense en v24 sê dat net soos ons innerlike mens (wat natuurlik die wedergebore gees is) alreeds geskape is na die beeld van Christus, so moet ons nou ook sorg dat ons handelinge hierdie verandering wat binne ons plaasgevind het, weerspiëel. [Ef 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid].
Daar is niks wat ons kan bylas tot hierdie perfekte werk wat God reeds in ons volbring het nie. Hy het ons egter een manier vertel hoe om onsself te verander:
[Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is].
Dit is ook hoekom ons beveel word om ons gedagtes te rig op die dinge daarbo [Kol 3:2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie], want hoe meer ons God se gedagtes bedink, hoe vinniger sal ons verstand/gemoed hernu word. Toe ons nog ‘n ou sondige natuur aan die binnekant gehad het, het ons agter daardie begeertes aangeloop en ons verstand aangeleer om volgens ons ou begeertes te funksioneer. Maar noudat Christus binne ons leef, het ons nodig om ons verstand te leer om te dink volgens die nuwe wedergebore gees se natuur. Soos die ou sondige denkpatrone dan begin sterf, sal ons verstand meer en meer in ooreenstemming begin kom met ons wedergebore gees-mens.

Nou mag jy dalk vra: “Is dit nie lastering om te sê dat ons God se gedagtes wil dink nie?” Nee, verseker nie. Ek sê nie ons moet God word nie; ek sê dat ons moet begin om soos Hy te dink.
“En hoe doen ons dit?” Wel ek is bly jy vra daardie vraag. Voordat enige iemand praat, moes die woorde wat hulle sê eers gedagtes in hulle kop gewees het. Hulle spreek dan hierdie woorde of skryf dit neer en gee daardeur lewe aan daardie gedagtes en maak dit bekend aan andere. En aangesien ons God se gedagtes neergeskryf het in Sy Woord en dit beskikbaar is vir ons, dan deur die Bybel te lees kan ons weet wat God se gedagtes is. Baie mense wag vir God om met hulle te praat, terwyl Hy alreeds vir hulle ‘n brief geskryf het. So as jy God se gedagtes wil begin dink, mediteer oor en lees die Bybel – so eenvoudig soos dit! Begin om te verstaan hoe Hy jou sien, maak jouself bekend met die Nuwe Verbond, die Nuwe Skepsel, die versoening, jou outoriteit as ‘n gelowige, hoe om God se stem te hoor en nog baie meer! As ons waarlik wil hê ons geloof moet effektief wees, sal ons ‘n plek in ons lewe moet bereik waar ons eerste gedagte altyd is wat die Woord van God sê, en nie “Wat sê God se Woord?” nie.

Moenie veroordeel voel deur die volgende woorde nie, maar lees dit deur die lense van die Nuwe Verbond, en onthou dat die Heilige Gees binne jou leef en dat jy alle dinge kan doen deur Christus wat jou krag gee (Fil 4:13). Hier gaan ons: Dit is nie net ons kennis van die Woord wat as bewys dien dat ons verstand hernu is nie. [Jak 1:22 En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie]. Die hoveelheid Woord wat ons in ons lewens begin toepas is ‘n maatstaf van die graad waartoe ons verstand hernu is. As ons nie die Woord doen nie, beteken dit dat ons dit nie werklik glo nie. Mense sal weet wat ons glo deur die vrugte wat ons dra, deur die dinge wat ons doen. Dade spreek duideliker as woorde.

Daar is oor die algemeen 2 groepe Christene: Eerstens is daar die groep wat grootgeword het onder die Wet. Hulle het altyd verwag dat God hulle gaan straf as hulle ‘n fout maak en hulle verstand het aangeleer om in veroordelende terme te dink: Doen goed – kry goed. Doen sleg – kry sleg. Hulle het hulself dus altyd aangespoor om te probeer om meer en meer te doen, beter te probeer lewe en meer heilig te probeer wees. Tweedens is daar die groep wat buite die kerk grootgeword het, wat in ‘n ontkenning van enige morele kode geleef het, en eenvoudig blindelings gehardloop het agter hulle sondige natuur se begeertes aan. Hierdie groep het hulle verstand aangeleer om in terme van self-behoud en self-bevrediging te dink. Afhangende van op watter ouderdom jy gered is, het meeste mense oor die algemeen vir die grootste gedeelte van 20 jaar volgens een van die bogenoemde maniere geleef.
Beide hierdie groepe moet hullself nou vereenselwig met die feit dat ons uit Genade alleen gered is, en hulle verstand herprogrammeer om teenoor God te identifiseer volgens die beginsels van die Nuwe Verbond. En daar is twee maniere om dit te doen:
Hulle kan òf kies om nog 20 jaar te spandeer waar hulle Sondag vir Sondag kerk bywoon en hoop dat hulle pastoor of dominee sy werk behoorlik doen, en daar sit terwyl hy hulle verstand vir hulle hernu op Sondag-oggende. Dan gedurende die week kan hulle terugkeer na hulle normale lewe en leef asof God nie bestaan nie, en dan uiteindelik, na ongeveer 20 jaar, sal hulle miskien die openbaring van Genade begin verstaan.
Of hulle kan ‘n keuse maak om die Woord van God te bestudeer, dissipline aanleer en na preke luister, God uitbundig aanbid, konferensies en seminare bywoon en hulle verstand binne ‘n paar maande of jare hernu. Dan kan hulle die res van hulle lewe spandeer en die vrugte pluk van hierdie seisoen waar hulle doelbewus hulleself toegewy het om hulle verstand te hrnu volgens die waarheid van God se Woord.
Niemand het gesê dit sal maklik wees aanvanklik nie, maar ons kan verseker wees hiervan: As ons kop eerste induik in die oseaan van God se dimensie, van Sy Gees en Sy lewe, sal ‘n passie vir Hom ons begin inhaal en verbysteek en ons sal vind dat dit makliker en makliker word om ons verstand te hernu.

Hoekom het ons nodig om ons verstand te hernu? Kom ons lees weer Rom 12:2 se tweede gedeelte: [Rom 12:2b... sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is]. Die woord “beproef” is eintlik “bewys” (“PROVE” in die Engels). Die wêreld is moeg vir slim argumente en filosofiëe oor die bestaan van God. [1 Kor 2:4 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, 5 sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God]. Ons bewys God se wil aan die wêreld deur Sy koninkryk met krag te vertoon deur die siekes te genees en die verdruktes en gevangenis te bevry.

[Hand 10:38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was]. Omdat Jesus perfekte teologie is en sedert Hy ALMAL genees het, weet ons dat dit God se wil is vir ALMAL om gesond te wees. Ons weet ook dat dit God se wil is dat ALMAL gered word: [1 Tim 2:3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom].
In die Onse Vader het Jesus die volgende gebid: [Matt 6:10b ... laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde]. Die blote feit dat Jesus hierdie woorde gebid het, bewys dat nie alles wat op die aarde gebeur wel God se wil is nie, ander sou Jesus nie gebid het “laat U wil geskied… so ook op die aarde” nie. So uit hierdie woorde wat deur Jesus gespreek is, kan ons sien dat dit God se wil is dat alles wat in die hemel gebeur ook op die aarde sal gebeur en dat die Vader se wil daardeur ook op die aarde sal geskied. Want ons weet in die hemel is daar geen siekte, geen armoede, geen korrupsie, geen dood, geen lyding ens. nie. So deur eenvoudig om ons rond te kyk kan ons maklik sien waar God se wil NIE besig is om te geskied nie en in daardie situasie kan ons Jesus se hande en voete wees. Daardeur kan ons aan die wêreld bewys dat dit wel God se wil is vir hulle om genees en gered te wees en verlos te word van verdrukking. Dit is hoe ons God se wil bewys aan die wêreld, daardie goeie, welgevallige en volmaakte wil van God. Halleluja!!!

Share

Leave a Reply