Is God in Beheer?
03.23.11
Die saak van God se sowereiniteit is ‘n hoogs gedebatteerde een. Dit het homself voorgedoen in die vorm van vele vrae deur die eeue, soos byvoorbeeldv: Geskied God se wil altyd? Is God verantwoordelik vir natuurrampe? Laat God siektes toe of veroorsaak Hy dit? Is God in beheer van alles wat op die aarde gebeur?
Wanneer ons egter mooi kyk na hoe God se wil uitgebeeld was deur die lewe van Jesus, spring die antwoorde letterlik uit na ons! Alles wat Jesus gedoen het was presies wat die Vader wou gehad het, want Jesus het dieselfde natuur as die Vader gehad:
Hy [Jesus] wat die afskynsel is van sy [die Vader se] heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag… (Heb 1:3a, annotasies bygevoeg)
Jesus vs. Die Vader?
Indien rampe, siektes en dood die Vader se wil was, dan sou Jesus en die Vader mekaar gedurig aan die keel beetgehad het:
1) Indien die storm op die meer (wat Jesus en die dissipels probeer doodmaak het) die Vader se wil was, dan was Jesus se bevel vir die storm om te bedaar téén die Vader se wil. (Mark 4:37-41).
2) Indien God die weduwee van Nain se seun “toegelaat” het om te sterf, dan deur die seun uit die dood op te wek was Jesus besig om teen die Vader se wil in te gaan. (Luk 7:11-17).
3) As dit God se wil was vir die tien melaatses om siek te wees, dan was Jesus besig om die Vader se wil te verontagsaam toe Hy hulle genees het. (Luk 17:11-19)
Die waarheid is dat ‘n verdeelde koninkryk nie kan bly staan nie. Jesus was nie uit op een of ander solo rebellie missie nie – Hy het slegs gedoen wat Hy die Vader sien doen het (Joh 5:19).
Natuurrampe
Op 22 Februarie 2011 het ‘n massiewe aarbewing Christchurch in Nieu Seeland getref wat dosyne mense doodgemaak het. Menigte doemprofete het saamgestem dat dit God se oordeel oor daardie nasie was. Cornel Marais (www.charismaminstries.org) het egter die spyker in die koffer geslaan met hierdie waarheid: “Indien God verantwoordelik was vir die aardbewing in Nieu Seeland, dan is elke reddingswerker en dokter wat besig is om mense se lewens te probeer red direk in opposisie met God se wil – hou op om dom teologie te preek!”
Dieselfde gaan vir die skaal 8.9 aardbewing en daaropvolgende tsunami wat Japan getref het op 11 Maart 2011 en duisende der duisende mense dood gelaat het. Daar was uitroepe dat hierdie rampe tekens is dat die einde naby is en stellings soos “Wat moet God nóg doen om mense se aandag te kry?” Die werklikheid is dat hierdie gebeurtenisse duidelike bewyse is dat die kerk nie eintlik omgee nie of nie eintlik ‘n idée het wie sy is nie… Jesus sou nooit toegelaat het dat ‘n tsunami of ‘n oorstroming of ‘n storm die mense vir wie Hy lief was doodmaak nie.
Die Skepping Onderwerp aan Frustrasie
Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. (Rom 8:19-21)
Die skepping kraak en kreun as gevolg van die mansdom se val in Eden. Die hele planeet wag vir die kinders van God op op te staan en weer te heers! Nadat God die heelal in ses dae geskep het, het Hy die mensdom in beheer gelaat van Sy skepping:
En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. (Gen 1:28)
Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel. (Ps 8:4-6)
Maar met Adam se val het dood die wêreld binnegekom (Rom 5:12). Nietemin het die bevel om te heers nogsteeds gestaan – God het nooit die mensdom bevel om op te hou heers nie. In sy gevalle toestand was dit egter ‘n onmoontlike taak, aangesien Satan die planeet as gyselaar gehou het en vernietiging gesaai het soos wat hy wou. Selfs Jesus het erken dat die duiwel die heerser van hierdie wêreld was (Joh 12:31). Maar dit was egter presiés hoekom Jesus in die vlees gekom het:
Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. (1 Joh 3:8b)
En as wedergebore, geesvervulde gelowiges aan wie al die voordele gegee is wat Jesus gehad het toe Hy op aarde was, is ons mandaat ook om die duiwel se werke te vernietig!
In die Hemel so ook op die Aarde
Die blote feit dat Jesus hierdie einste woorde gebid het is ‘n duidelike indikasie dat nie alles wat op die aarde gebeur God se wil is nie! Hoekom sou Jesus hierdie woorde gebid het as God se wil altyd geseëvier het? Want as God se wil huidiglik oral op aarde geskied, maak dit Hom verantwoordelik vir al die vernietiging, geweld, hongersnood en oorloë wat ons vandag sien. Hoe kan ons gaan hulp vra by dieselfde persoon wat ons probeer vernietig en doodmaak? Indien God regtig in beheer was sou dit beteken dat Hy is massamoordenaar is!
Een van die lelikste dinge om vir iemand te sê nadat hulle ‘n ongeluk gehad het of een of ander vorm van verlies gely het of slegte nuus ontvang het is: “Moenie bekommerd wees nie, God is in beheer” of “Dit sal OK wees, God het ‘n plan.” Dit impliseer dat God so geweldig tekort is aan maniere om Sy glorie ten toon te stel dat Hy moet rondgaan en mense kwaad aandoen net sodat Hy hulle weer kan red. Wat ‘n dom teorie…
Lyding
Al die lyding en vervolging wat deur die Nuwe Testamentiese gelowiges verduur is, was as gevolg van hulle opstaan vir die evangelie. Nie een keer verwys die konteks na God wat hulle deur een of ander toets probeer sit om hulle vlak van getrouheid te meet nie. Jesus het reeds dood namens ons almal gesmaak sodat ons nie getoets of versoek sou word nie. En indien ons wel versoeking in die hede sou moes verduur, sou dit verseker nie van God af kom nie.
Nog ‘n Bybelvers wat gereeld verdraai word deur diégene wat God blameer vir pyn en lyding is Romeine 8:28 wat sê “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Wat hierdie vers eintlik sê is dat waneer ookal daar iets slegs met ‘n gelowige gebeur (of dit nou as gevolg van hulle eie slegte keuses is, as gevolg van ‘n aanval van die duiwel of eenvoudig omdat ons in ‘n gevalle wêreld leef), kan God hierdie omstandighede gebruik en dit omdraai ten goede. Dit sê nie dat God die slegte omstandighede veroorsaak het nie.
Saai en Maai
‘n Ongewensde gevolg van die feit dat die mensdom die wonderlike voorreg van ‘n vrye wil gegee is, is dat ons onsself kan vernietig. Buiten ons keuse om in Christus te glo om die ewige lewe te beërwe (wat veroorsaak dat al die ewige gevolge goed is!), het al ons keuses hier op aarde goeie of slegte gevolge, hier op aarde:
Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof. (Gal 6:7-10)
Ons kan uit hierdie verse sien dat ons aangemoedig word om goed te doen aan ander, want dit sal goeie gevolge hê. Wanneer ons egter tydens ons aarde lewe slegte keuses maak, sal ons soms tydens ons aardse lewe die slegte gevolge daarvan moet dra. Kettingrokers mag dalk opeindig met kanker. Diewe mag dalk in die tronk beland. Egbrekers mag dalk opeindig met seksueel oordraagbare siektes. Maar steeds is redding, genesing en bevryding beskikbaar vir al hierdie mense. Sonde kan nie die krag van God stop nie! Indien dit kon, sou God nie instaat gewees het om ons in die eerste plek te red nie.
‘n Geloofs-Vernietigende Gebed
God se wil is entlik baie maklik om te onderskei: Enige iets wat ons op aarde sien gebeur wat nié in die hemel toegelaat sou word nie, is nie God se wil nie – punt.
Wanneer ons siekte beveel om iemand se liggaam te verlaat, maar ons sê “Here as dit U wil is” agterna, dan kanselleer ons in werklikheid daardie gebed. Hoe kan ons met geloof bid as ons onseker is of ons wel God se wil bid? God se wil is dat ALMAL gered word, genees word, bevry word, herstel word en geseën word.
Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. (Jak 1:6-8)
Daar is slegs twee werksbeskrywings in die Bybel – ons het nodig om te besluit wié is verantwoordelik vir lewe en wié is verantwoordelik vir dood:
Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. (Joh 10:10)







