Leierskap In Die Kerk

02.25.11

Die grootste rede waarom soveel onsekerheid vandag bestaan rondom die term “Kerk Leierskap” is as gevolg van die sisteem van godsdiens waarin die bruid van Christus probeer funksioneer. Die komplekse web van politiek en die mensgemaakte hiërargiëe is besig om die ligaam van Christus te versmoor met al hulle morele regulasies en dreig om die laaste bietjie lewe uit die kerk uit te wurg. In kontras blyk die meerderheid van mense wat hulself “leiers” noem om heel vooruitvarend te wees binne die sisteem wat hulle gehelp het om te skep. Die een groep sukkel en die ander doen goed – kom dit nie voor of daar nie een of ander korrelasie is nie?

‘n Funksie, Nie ‘n Titel Nie

Ouderlinge, diakens, pastore en selfs evangeliste, profete en apostels is almal versonderstel om funksies binne die kerk te wees, of dit nou binne ‘n offisiële kapasiteit verrig word of nie. Dit was nooit veronderstel om titels te wees nie. Ja, sommige van die vroëe apostels het wel tussen die kerke gereis en ouderlinge aangestel (Tit 1:5), maar die funksie van diégene wat lei binne die kerk is immers gelys as ‘n gawe in die Bybel:

En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. (1 Kor 12:28, klem begevoeg)

Dit beteken dat om te lei net soveel ‘n Gawe van die Gees is as wat genesing is. In kontras hiermee egter vind ons in die moderne kerk dat meeste mense leiers word nadat hulle een of ander Bybel Kollege kursus voltooi het of lank genoeg deur hulle institusie se hoepels gespring het.

Hartseer Maar Waar!

In sommige van die tradisionele denominasies dien die prediker hoofsaaklik twee hoof funksies: eerstens om as die gemeente se hoof morele polisieman op te tree en tweedens om die “besigheid” finansiëel aan die gang te hou, wat vermag word deur die bywonders op te sweep om finansiële bydraes te maak. In wese is hulle niks meer as takbestuurders vir ‘n welvarende besigheid nie.

Daar is geen herders-hart vir hulle skape nie, geen afwering teen wolwe of ander roofdiere nie. Hulle sal toelaat dat enige ander persoon wat binne dieselfde denominasie gekwalifiseer het inkom en by hulle kerk kom preek, of hulle nou hierdie persoon ken of nie. “Hoofkantoor” het dan immers tog hierdie persoon goedkeur? Dit maak nie saak of hierdie persoon saam met hom die gif van sy eie vooropgestelde idees of half-waarhede inbring nie. Daar is min of geen bealangstelling om met die ander persoon op ‘n persoonlike vlak te identifiseer voordat so ‘n persoon toegelaat word om te kom bedien nie. Hy word eenvoudig toestemming gegee om in te kom en verwarring te saai, wat menigmaal die kerk deurmekaar en verwilderd laat.

En die hartseerste van alles is dat wanneer die predikers binne hierdie denominasies ‘n beter betalende posisie vind by ‘n ander gemeente, sal hulle hulle eie skape agterlaat en die “pos” by die nuwe kerk vat. Sodoende handig hulle die skape op ‘n silwer skinkbord oor aan watter roofdier hulle ookal volgende wil hê.

G’n wonder die wêreld wil niks met “kerk” te doen hê nie…

Nêrens in die Bybel vind ons ‘n patroon wat die leierskap sisteem uitbeeld wat te vinde is in meeste van vandag se kerk-wêreld nie. Nêrens was daar ‘n gesentraliseerde “hoofkantoor” wat bevele en oordele uitgeblaf het aan hulle “takke” nie. Die hoogste vorm van outoriteit in enige kerk was die ouderlinge en leierskap binne daardie kerk. Die apostels het tussen hierdie kerke gereis en hulle vermaan en aangemoedig, maar nooit as hulle base nie.
Hoe Ware Leierskap Lyk
Leiers is ontvanklike en passievolle mense wat dié om hulle liefhet met ‘n jaloerse liefde. Hulle lei deur voorbeeld en demonstreer en wandel self in die boodskap wat hulle preek. Om ander mense te probeer manipuleer om dinge te doen wat hulle nie self doen nie, is soos om ‘n stuk tou te probeer stoot: dit gaan eenvoudig net nie gebeur nie. Maar wanneer leiers doén wat hulle preek (siekes genees, gebrokenes vrymaak, demone uitdryf, sorg vir die behoeftiges, hulle vryheid in Christus met oorgawe vier, ens) sal ander mense ‘n natuurlike geneigdheid hê om hulle te volg.

Leiers tree meestal slegs as fasiliteerders op en laat mense toe om dinge vir hulleself te beleef. Hulle gee die mense rondom hulle die ruimte om foute te maak – leiers vertrou die Heilige Gees om self die werk te voltooi wat HY begin het. Hulle laat mense toe om hulleself te wees, om ook ‘n bydra te maak tot die welvaart van die groep (in watter manier hulle ookal kan) en om hulle eie opinies te lig.

Leiers is vas gegrond in hulle posisie in Christus en vind nie hulle sin van vergenoegdheid in hoé goed hulle groep doen nie. Leiers is bereid om uit die pad uit te kom en verheug hulleself in wanneer God Homself manifesteer deur ander mense, selfs al is dit in ‘n meerdere mate as deur hulleself.

Ware leiers voel nie bedreig wanneer hulle teologie deur ander uitgedaag word nie, maar verheug hulleself daarin om leerbaar te bly. Hulle is altyd bereid om verantwoordbaar te wees vir wat hulle preek. Hulle hardloop nie weg na eredienste nie en gee gereeld aan mense die geleentheid om vrae te vra, want dit is wanner mense die vinnigste groei – tydens dialoog! Die Sondag-vir-Sondag “monoloog-model” wat heers in die meeste plekke vandag skep ‘n gevoel van onderskeid tussen die leiers en die res van die mense en beeld die leiers uit as ontoenaderbaar. Die vroëe kerk het in mekaar se huise bymekaar gekom en daagliks saam geëet en gedrink. Sodoende het hulle ‘n atmosfeer geskep vir gesonde gesprekke en gemeeskap met mekaar, ‘n idee wat ongelukkig vêr verwyder is van die goed afgewerkte vertonings wat duisende mense deesdae op Sondae na gaan kyk.

Share

Leave a Reply