Hoe Kan Ons “Kerk Toe Gaan” As Ons die Kerk IS?

11.25.10

Die meeste van ons het grootgeword met die idee dat “kerk” ‘n gestruktureerde Sondag-oggend byeekoms is met so bietjie ruimte vir die Heilige Gees om in te kom en Sy ding te kom doen. Hy is egter net toegelaat om binne die geallokeerde tyd van die erediens te beweeg en te funksioneer binne ons beperkte “kerklike” woordeskat en gemaksones. Solank Hy ons ook net nie “ongemaklik” laat voel nie. In sommige kerke is die Heilige Gees omtrent net so welkom soos die Duiwel homself…

Baie min mense bereik die ontnugterende plek in hulle wandel met God waar hulle vir ‘n oomblik stop en hulle motiewe bevraagteken oor hoekom hulle aanhou met hulle godsdienstige gewoontes. Sommige mense woon Sondag byeenkomste by vir jare en jare sonder om te wonder hoekom. En omdat ons geneig is om teenoor God te identifiseer op grond van hoe goed ons presteer (Bybel lees, bid, kerk toe gaan, ens.), probeer ons nooit om vir ‘n paar weke of maande weg te bly nie, want die skuldgevoel raak te erg om te hanteer. Dan trek ons maar weer ons Sondag-klere aan en gaan terug vir nog…
Die hartseer ding is dat meeste kerkgangers ‘n groot deel van hulle geestelike identiteit en sekuriteit gebasseer het in hulle assosiasie met die kerk beweging of institusie wat hulle bywoon. Dis egter verbasend dat hulle nooit stop en wonder wat sou gebeur met hulle geestelike lewe as daardie mat onder hulle voete uitgepluk sou word nie. Hoe lank sal hulle kan bly staan as hulle kerk sy deure so toemaak? Hoe standvastig is hulle verhuding met God WEG VAN daardie institusie af?

“Christenskap het in die Midde-Ooste begin as ‘n gemeenskap; na Griekeland toe beweeg en ‘n filosofie geword; na Italië toe beweeg en ‘n institusie geword; na Europa toe beweeg en ‘n kultuur geword; na Amerika toe gekom en ‘n besigheid geword” – Sam Pascoe.

Deur die eeue is allerlei slim mensgemaakte teorieë en leerrings ingestel om mense vasgenael te hou aan die aanskoulike Sondag optredes in kerke, leerringe dat ons byvoorbeeld “Verantwoordbaar” of onder die “Bedekking” van ‘n institusie of kerk beweging iewers moet wees. En tòg sien ons nêrens dat hierdie patroon deur Jesus uitgebeeld is nie.

“Die leerring van “bedekking” is ‘n ou leuen met ‘n nuwe naam. Dit is fundamenteel tot die instandhouding van ‘n valse hiërargie van godsdienstige siteme wat baie Christene tot vandag toe nog beheer. Sonder die krag van hierdie onderdrukkende denkpatroon, is dit selfs twyfelbaar dat sommige seksies van die “kerk” kan bly voortbestaan” – Cheryl McGrath.

Ons Liggaam: God se Tempel

In die Ou Testament het God in tempels gewoon wat met mensehande gebou is. Tydens die inwyding van die Tabernakel (Eks 4:34) en ook van Salomo se temple (2 Kron 5:11-14) het God se teenwoordigheid die gebou soos ‘n wolk gevul en dit was waar Hy gekies het om te woon tussen Sy mense. Die gebou was nie vir mense gemaak nie; die hoëpriester kon slegs een maal per jaar ingaan om offerandes te bring. Die gebou was vir God alleen.

In die Nuwe Testament bly God nie meer in mensgemaakte geboue nie – Hy woon in mense: [1 Kor 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?].

Nou is ons Sy heilige priesters met vrye toegang tot die allerheiligste: [1 Pet 2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus]. Die enigste rede hoekom ons binne-in ‘n gebou sou wou bymekaarkom is om te verhoed dat ons natreën of dat die son ons brand. Die gebou dien slegs om die mense te akkommodeer. So om te sê “ons gaan kerk toe” is eintlik verkeerd, want ons IS die kerk.

Sondag byeenkomste in geboue het ook die ongewensde uitwerking dat dit mense meer “byeenkoms-gefokus” maak as “Christus-gefokus”, tot die punt waar gelowiges amper glad nie meer effektief kan funsksioneer buite hulle gestruktureerde byeenkomste op Sondae nie. Ons het nie ‘n spesiale preek, “gesalfde” musiek of enige iets van die soort nodig om intiem met ons Vader te wees nie. Hy is by ons elke tree van die pad en geniet ons eenvoudig omdat ons Syne is.

Is Sondag-Oggend Byeenkomste Bybels?

Die eenvoudige rede hoekom Sondag byeenkomste so goed werk vir meeste mense is omdat die meerderheid op Sondae af is. Indien mense byvoorbeeld nie op Maandae gewerk het nie, sou kerk byeenkomste waarskynlik op Maandae gehou gewees het. Een dag is nie meér spesiaal as die ander dag nie (Gal 4:9-10).

Wat egter betref die stelling dat Sondag byeenkomste onbybels is – dit is pure onsin. Almal is veronderstel om ‘n plek te hê waar hulle gemeenskap en interaksie het met die res van die ligaam (op watter dag van die week hulle ookal wil); ons was nooit veronderstel om hierdie wedloop alleen te hardloop nie: [Heb 10:25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom].

Ons is almal deel van dieselfde liggaam en niemand van ons is veronderstel om in isolasie te probeer funksioneer nie. Dis egter ‘n hartseer realiteit dat ‘n groeiende hoeveelheid dele van die ligaam geforseer word om buitekant die formele kerk gemeenskap interaksie te hê, omdat die grootste gedeelte van die liggaam aangetas is deur die siektes van tradisies, formalisme, godsdiens en reëls.

As ons vasgevang is in dieselfde geestelike put jaar na jaar, moet ons onsself vra of ons kerk bywoning ons regtig enigsins goed doen. Dalk het ons nodig om van die manipulerende greep te ontsnap wat sommige kerkleiers op mense toepas, en vir onsself te toets en sien dat die Here goed is.

Persoonlike Getuienis

Ek het begin ervaar dat daar geen verskil is tussen die manier wat ek voel waneer ek by ‘n “kerk” byeenkoms is of as ek alleen is by die huis, by die werk, by vriende of in die straat loop, waar ek eintlik veronderstel is om kerk te WEES nie. Oor die laaste 7 of 8 maande, waartydens ons nie werklik formeel betrokke was by enige “kerk” nie, het dit natuurlik geword om ons hande op siek mense te lê by braais, om oordie Koninkryk te praat met vriende by restaurante of in die sitkamer en God se inwonende teenwoordigheid te ervaar elke dag.

Ons ontmoet met ‘n groep vriende elke 2de Vrydag-aand om net eenvoudig te gesels, te eet en gemeenskap van geloof te hê. Indien iemand voel hulle wil bid, dan doen hulle dit. As ons voel die Gees wil die kamer vul met profesie, woorde van kennis, aanbiddingsliedere of tale, laat ons Hom dit doen. En ons laat almal bydra, nie net een enkele soldaat wat elke Sondag met Sy openbaring kom terwyl die res passief moet sit terwyl die boodskap oorgedra word nie. Ja daar is ‘n tyd vir stilsit en luister, maar nie soos dit elke Sondag, keer op keer en oor en oor gedoen word nie.

Daar is nie plekke of organisasies of bewegings wat ek van weet wat dit al reggekry het om ‘n struktuur te vind vir hierdie tipe vryheid nie. Ek kan dink dat dit effens moeilik kan raak as daar baie mense is. Indien enige iemand egter deel is van iets soos hierdie, sou ek graag wou uitvind wat julle doen, want ons vertrou God tans om hier ‘n kerk te plant, sonder dat dit slegs nog ‘n institusie word. Ek glo vas dit hierdie die sleutel is om die wêreldye beweging van God te sien manifesteer: Die openbaring dat ONS die kerk IS – Christus in ons, die hoop op heerlikheid.

In Genade
Andre van der Merwe

Share

Leave a Reply