Kragtelose Godsdiens
09.01.09
Kragtelose Godsdiens
Het jy al ooit gevoel daar is fout met die “gemiddelde” manier hoe kerk gehou word vandag? Het jy al gevoel dat om eenvoudig deur die roetines te gaan om op te staan vir werk elke dag, dan te ontspan op Saterdae en uiteindelik kerk toe te gaan op Sondag vir ‘n lekker “opkikker”, nie baie vervullend is nie? Het jy ooit gewonder hoekom die kerk in Handelinge dooies opgewek het, allerhande soorte siektes genees het, hulle geboue letterlik geskud het onder die krag van God (Hand 4:31), en ELKE dag bymekaar gekom het om gemeenskap met mekaar te hê?
Indien jy “ja” geantwoord het op enige van die bogenoemde vrae, is die kanse dat jy net soos miljoene Christene wêreldwyd vandag, genoeg gehad het van die vernietigende mag genaamd “godsdiens”. Godsdiens het homself in die Nuwe Testamentiese kerk ingewurm teen ongeveer 100-200 jaar na Christus. Tot op daardie punt het die kerk beweeg in magtige tekens en wonderwerke – hulle het uitgegaan en die evangelie aan die nasies toe gevat en gelewe in vryheid, genade en liefde en hulle het ‘n brandende passie vir God gehad. En toe kom godsdiens met al sy reëls, regulasies en tradisies en dompel die wêreld soos wat ons dit ken in ongeveer 1500 jaar in van wat bekend sou staan as die “middeleeue”. Tegnologie, kuns, literatuur en wetenskap het amper tot stilstand gekom, want godsdiens beperk himself nie net tot die kerk nie, maar beinvloed die hele samelewing. En toe in die 17de eeu het die lig van Rom 1:16 (Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek) oopgebreek vir ‘n monnik met die naam Martin Luther, wat sy vuis geskud het vir die godsdienstige stelsel en dit aangevat het. Martin Luther het jare en jare gespandeer om himself te “reinig” voor God, hy het dae deurgebring deur sy sondes oor en oor te bely, probeer om so heilig te leef as wat hy kon, en na al hierdie dinge het hy gevind dat die onderliggende gevoel van skuld net nooit wou lig nie. Kan jy die moed en durf verstaan van hierdie een man om ‘n sisteem aan te vat wat gedreig het om wetenskaplikes dood te maak wat beweer het dat die aarde “rond” was, ‘n sisteem van beheer wat homself op die samelewing afgeforseer het en vrees ingeboesem het in die harte van al die mense wat dit wou teenstaan?
Die hoofrede hoekom ons nie vandag die magtige tekens en wonders sien in die moderne kerk wat die kerk in Handelinge gesien het nie, is omdat ons nogsteeds sit met die oorblyfsels van 1500 jaar se “middeleeue”, van mense wat bang gemaak is met die wette van die Bybel en hulle onder die vrees en beheer van ander mense inbring. Die kerk vandag het NIE nog ‘n geestelike herlewing nodig nie (want herlewings kom en gaan), maar dit het weereens ‘n teologiese reformasie nodig soos in die dae van Martin Luther! Kan jy die storie onthou van die naakte keiser wat uitgevang is deur die weefsters wat kamsitg vir hom deurskynende klere gemaak het? Wel iemand moet nou ook opstaan en sê: “Die keiser is naak!! Daar is iets verkeerd met die manier hoe die tradisionele kerk funksioneer! Hoekom sien ons nie dieselfde wonderwerke vandag wat ons in die Bybel sien nie?” Jesus het die volgende gesê: Joh 14:12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo–die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. Was Jesus besig om te lieg? Was Hy ‘n wrede sadis wat ons iets sou belowe wat Hy geweet het ons nooit sou kon doen nie? Natuurlik nie!!
Moenie dat enige iemand jou mislei deur jou te laat dink dat die tydperk van wonderwerke verby is saam met die vroeë kerk se apostels nie. Ons het die volgende skrifgedeeltes wat bewys dat God wonderwerke steeds vandag nog doen: Heb 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Mar 13:31 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Nou as God magtige werke gedoen het deur die kerk in die Bybel se tye (Hand 2:43 & Hand 5:12) en as God altyd dieselfde bly, dan is dit duidelik dat die enigste ding wat verander het, die kerk is.
Die Bybel waarsku ons teen mense wat die kerk probeer oortuig dat die tyd van wonderwerke verby is: Kol 2:8 Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Mar 7:13 So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het.
Ons het almal nodig om ons denke te verander, ons verstand te hernu. Ons het ‘n teologiese reformasie nodig, ‘n boodskap wat die volheid van die Genade van die Nuwe Verbond herstel, en die Ou Testamentiese Wet verwyder. Die Wet is die bediening van die dood (2 Kor 3:7 En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer…) en die wet is nie gebasseer op geloof nie (Gal 3:12 Maar die wet is nie uit die geloof nie…). Dit maak geloof dood en maak mense selfbewus, sonde bewus, en selfgeregtig. Jy kan Christene hê wat vas en bid en sing en konferensies hou en allerhande soorte dinge doen, maar as daar nie ‘n teologiese reformasie is wat die manier verander waarop hulle dink nie, sal niks verander nie. Jy kan dwase mense hê wat gevul word met die Heilige Gees, maar as hulle nie hulle denke verander nie, sal hulle slegs gesalfde dwase wees.
Miljoene Christene is gelukkig om na hulle “gemaklike” Sondag-oggend diens toe te gaan, te luister na ‘n preek wat hulle ‘n bietjie beter laat voel oor hulleself, of wat hulle herinner dat hulle ‘n verantwoordelikheid het teenoor God, maar dis omtrend so vêr as wat dit gaan. Hulle het ‘n vorm van godsaligheid, maar wil nie hoor dat hulle eintlik geroep is om in magtige tekens en wonders te beweeg nie, om die krag van die hemele in die aarde in te gelei nie. Die Bybel praat oor sulke mense: 2 Tim 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Die Bybel leer ons egter anders: 1 Kor 4:20 want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag. Paulus het ook gesê dat wanneer die REGTE evangelie gepreek word dit gepaard sal gaan met tekens en wonders. 1 Kor 2:4 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, 5 sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. Inteendeel, altyd wanneer die WARE evangelie van Genade gepreek word, sal God Sy woord bevestig deur tekens en wonders: Hand 14:3 Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van Sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind. Hoe anders is die ongelowige wêreld veronderstel om te sien dat God regtig bestaan? Dink jy dat ons in vandag se moderne wetenskaplike era ongelowige mense gaan oortuig met woorde alleen? Beslis nie.
Indien jy leef in die gevangenisskap van dooie godsdiens, nie die koninkryk van God sien manifesteer in tekens en wonders rondom jou nie, en nie die boodskap van Genade van die Nuwe Verbond van die Bybel hoor preek word nie, mag jy dalk dit oorweeg om jou vuis te skud vir hierdie vernietigende mag en tronk genaamd “godsdiens” en in die vryheid van Christus inkom, die vryheid wat Christus voor gesterf het sodat ons vry kan leef van die vrees van mense se opinies, vry van die vereistes van wette en regulasies, en vry om God lief te hê want Hy is ‘n goeie Vader! Gal 5:1 Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.
In Genade
Andre van der Merwe




