Misverstane Bybel Terminologie deel 1
02.16.10
Misverstane Bybel Terminologie
In hierdie boodskap sal ons ‘n indiepte ondersoek loots na sommige Bybel terminologie wat maklik misverstaan kan word indien dit nie deur die perspektief van die Nuwe Verbond gelees word nie.Baie van hierdie verse, veral uit die briewe van 1 – 3 Johannes, is in die verlede gebruik as ‘n sweep om die kerk terug onder die Wette van die Ou Testament in te slaan. ‘n Goeie begrip van Genade en Geregtigheid sal egter baie help om van die mistigheid ontslae te raak wat hierdie onderwerpe van bespreking omhul, soos bv die terme “gemeenskap”, “doen geregtigheid”, “doen sonde” ens. Onverdeelde aandag en verlengde konsentrasie word sterk aanbeveel vir hierdie een.
Gemeenskap
Dit word algemeen geglo dat wanneer gelowiges droogmaak met betrekking tot hul morele optrede, dat hulle uit gemeenskap met God val en dat hulle nodig het om hulle sondes te bely om sodanige “gemeenskap” of “genootskap” te herstel. Wanneer egter beskou word uit hierdie perspektief verwys die term “gemeenskap” na ‘n gevoel van inimiteit wat kom en gaan afhangende van ons vermoë om op ons beste op te tree. Dit is nie wat die skrif te sê het nie, inteendeel nie eers een maal in die hele Nuwe Testament word die woord “gemeenskap” op hierdie manier beskryf nie, veral nie as dit by ons verhouding met God kom nie. Hier is ‘n paar voorbeelde:
[2 Kor 6:14b ...watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? 15 En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?] Let op hoe hierdie teenoorgestelde entiteite met mekaar gekontrasteer word: geregtigheid vs. ongeregtigheid, lig vs. duisternis, Christus (gesalfde) vs. Bélial (waardelose) en gelowige vs. ongelowige. Dit sê dat sulke teenoorgesteldes nie gemeenskap met mekaar kan hê nie, wat beteken dat hulle nie aanpasbaar is nie. Net soos wat Christus nie gemeenskap met Bélial kan hê nie, in dieselfde manier kan ‘n ongelowige nie met dieselfde maatstaf gemeet word as ‘n gelowige nie. Indien ‘n persoon dus uit gemeenskap met God is, beteken dit dat so persoon nog nie wedergebore is nie en val dus in dieselfde kategorie as Bélial, ongeregtigheid en duisternis in die bogenoemde vers.
[1 Kor 1:9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here]. Ons is reeds geroep tot die gemeenskap met Christus (Engelse vertaling sê “we were called into the fellowship”) en daarom wanneer ons ons geloof in Christus plaas is ons IN gemeenskap met Hom.
[1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie]. Hierdie vers maak dit so duidelik soos daglig dat die apostel Johannes hier van ons posisie in Christus praat, nie oor ons optrede nie. Ons kan nie sê dat ons gemeenskap met God het (met ander woorde dat ons wedergebore is) as ons in duisternis wandel nie (m.a.w. as nie wedergebore is nie), want dan sou ons besig wees om te lieg. In eenvoudige Afrikaans: Jy kan nie sê dat jy ‘n Christen is as jy nog nie wedergebore is nie!!
Doen Geregtigheid of Waarheid / Wandel in Duisternis
Natuurlik sal die pessimis of selfgeregtige onmiddelik sê, “Ja maar wat van die gedeelte in die vorige vers wat sê “WANDEL in duisternis” en “DOEN waarheid”? Die antwoord is eenvoudig: weereens verwys dit nie na ons eie goeie werke nie, inteendeel dit het niks te doen met ons optrede nie. Die terminologie wat gebruik word deur die apostel Johannes om “wedergebore” te wees is om “geregtigheid te doen” of “waarheid te doen” of om “in die lig te wandel.” [1 John 2:29 As julle weet dat Hy regverdig is, dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is].
In teenstelling, wanneer Johannes praat van diégene wat “sonde doen” of “wetteloosheid beoefen” of “in duisternis wandel”, is hy besig om te verwys na die ongereddes. Hierdie beginsel bly konstant regdeur al 3 Johannes se briewe. Hierdie verse is egter in die verlede grootendeels deur ‘n selfgeregtige oogpunt gelees, wat vele misverstande en onduidelikhede in die liggaam van Christus tot gevolg het.
Doen Sonde of Wetteloosheid
Nog ‘n duidelike voorbeeld is 1 Joh 3:4-9: [1 Joh 3:4 Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. 5 En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie]. Weereens verwys Johannes hier na die ongereddes. In vers 5 verduidelik hy dan God se antwoord vir sonde – Hy het ons sonde weggeneem en ons in Christus geplaas waar ons nou volkome vergewe is en gesien word asof ons nog nooit een enkele sonde gepleeg het nie! Lees weer vers 5 in hierdie konteks. Is die lig besig om te begin aangaan?
[1 Joh 3:6 Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie]. Hierdie vers noem nog ‘n “buzz” konsep in vandag se kerkwêreld, naamlik om in God te “bly”. Dis regtig baie eenvoudig om te bews dat dit ook verwys na “om gered te wees” en nie na ons eie pogings om ‘n goeie verhouding met God te probeer handhaaf nie. Doen eenvoudig ‘n soektog na die woorde “bly in Hom” of “bly in God” op enige Bybel sagteware en bestudeer die resultate.
Vers 6 sê verder dat wieookal sondig het God nie gesien of Hom geken nie, wat impliseer om nie ‘n verhouding met Hom te hê nie. Baie (indien nie alle) opregte Christene wat alreeds jare lank ‘n intieme verhouding met God het, maak steeds elke dag van hul lewens foute ten spyte van hulle beste pogings. Indien hierdie vers sou beteken dat hulle gediskwalifiseer word van hulle verhouding met God as hulle selfs ‘n enkele sonde doen (want dit sê nie “sondig ‘n honderd maal” of “sondig 4 keer per dag” nie), sou dit beteken dat niemand op die hele planeet in staat was om ‘n stabiele verhouding met God te handhaaf nie. Dit is dus duidelik dat hierdie nie die konteks van die vers is nie. Kom ons kyk na die opvolgende 3 verse (eie kommentaar in hakies):
[1 Joh 3:7 My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen (wat beteken om wedergebore te wees), is regverdig soos Hy (God) regverdig is. 8 Hy wat die sonde doen (‘n ongelowige), is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. 9 Elkeen wat uit God gebore is (‘n gelowige), doen geen sonde nie, omdat sy (God se) saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore]. Die sleutel hier is vers 9. Hoe is dit moontlik dat ‘n gelowige nie kan sondig as ons al te bewus is van hoe baie foute ons maak? Eenvoudig omdat Johannes nie van ons optrede praat nie! Hy gebruiks steeds dieselfde terminologie om onderskeid te maak tussen gereddes en ongereddes. Lees weer vers 7 – 9 en laat dit insink. In vers 8, as Johannes bedoel het dat enige iemand wat ‘n daad van sonde doen, van die duiwel is, impliseer dit dat alle Christene van die duiwel is. Duidelik is dit nie wat hy bedoel het nie.
Daar is grootliks 3 redes waarom Christene nie meer “sondaars” genoem kan word nie, die eerste omdat hulle nie meer onder die Ou Testamentiese Wet is nie. En omdat daar geen meer Wet is om te hou of te breek nie (want sonde is onder die Ou Verbond gedifineer as om die Wet te breek) kan hulle foute nie meer “sonde” genoem word nie. [Rom 4:15b ...maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie].
Tweedens is elke persoon op die planeet òf ‘n sondaar òf ‘n heilige (“heilige” is ‘n ander naam vir ‘n “gelowige” – sien Hand 26:10, Rom 1:7, Rom 12:3, Rom 16:15, 1 Kor 6:1, ens). Nêrens in die hele Bybel word daar gepraat van ‘n “neutrale” posisie iewers in die middel nie. Ons het òf God as ons Vader òf die duiwel.
Derdens is die wedergebore gees van ‘n Christen 100% geregtig en sal steeds 100% geregtig bly tot in alle ewigheid, ten spyte van minder as perfekte optrede tydens hulle oorblywende tyd op die aarde. Indien dit nie die geval was nie, sou daar geen ander manier gewees het om die volgende “skynbaar teenstrydige” verse te verduidelik nie:
[1 Joh 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie].
Nou vergelyk hierdie bogenoemde 3 verse met die volgende “skynbaar teenstrydige” vers:
[1 Joh 3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore].
Die enigste verduideliking is dat in die eerste 3 verse, selfs al het Johannes die woord “ons” gebruik, was hy nie besig om te verwys na gelowiges nie, maar na ongelowiges. As ‘n herder en leeraar was hy besig om te identifiseer met die verlorenes in ‘n openlike tentoonstelling van God se liefde deur te sê “Ons het almal gesondig, ons het nodig om dit te bely”. Johannes het verwys na die hele mensdom in ‘n opgevoede, insluitende manier. Instede daarvan om die ongelowiges openlik te verkleineer, was hy taktvol besig om die volgende te sê: “(v8) Indien iemand sou sê dat hulle geen sonde het nie, mislei hulle hulself en is die waarheid (Christus) nie in hulle nie (want Christus het gesê “Ek is die Waarheid, die Weg en die Lewe). (v9) Maar as so ‘n persoon (ongelowige) sy sondes sou belei, Hy (God) is getrou en regverdig om hom AL sy sondes te vergewe en hom skoon te was van ALLE ongeregtigheid (wat impliseer dat so persoon nou vir altyd skoon is). (v10) Maar indien enige persoon eis dat dat hulle nie gesondig het nie, maak hulle God tot ‘n leuenaar en verwerp hulle gewilliglik die waarheid van God se Woord.”
Dink só daaroor: Wat moet ‘n persoon doen om wedergebore te word? Hy moet belei dat hy ‘n sondaar is, erken dat hy ‘n redder nodig het en sy geloof in Christus plaas (Rom 10:9-10). Daarom as enige persoon eis dat hy sonder sonde is voordat hy sy geloof in Christus geplaas het, is hy bedrieg en verblind vir die waarheid. Hierdie is die leuen wat Johannes wou beveg in sy brief. (Vir ‘n meer volledige bespreking van 1 Joh 1:9, sien gerus die artikel “Moet Christene Hulle Sondes Belei?” onder die “Boodskap Argief” bladsy op ons webwerf).
In ons volgende boodskap sal ons aanhou om hierdie godsdienstige teologiëe te vernietig wat die kerk al vir so lank gekreupel het. Ons sal kyk na wat Jesus gesê het oor diégene wat “wetteloosheid en “ongeregtigheid beoefen” in Matt 7 en na wat die apostel Johannes bedoel het toe hy gepraat het van om “gebooie te onderhou” in 1 Joh 2 en 3.
In Genade
Andre van der Merwe



