Nader God Met Vertroue
06.25.10
Nader God Met Vertroue
Nadat Hy ons geklee het met ‘n vlekkelose mantel van geregtigheid, wil God nie hê dat ons meer bewus moet wees van ons sondes, soos die mense onder die Ou Testament was nie. Om te probeer om volgens die vereistes van die Wet te leef sal ons altyd al te bewus maak van hoe sleg ons eintlik teen dit opmeet. Die enigste manier vir gelowiges om vertroue en vrymoedigheid te hê as ons tot God nader is om absoluut oortuig te wees dat al ons sondes vergewe is! Enige iets minder sal altyd ‘n spoor van onsekerheid laat oor of God regtig lief vir ons is en ons wil seen. God wil hê ons moet bewus wees van ons geregtigheid. Wanneer ons Hom gedurig vertel hoe jammer ons vir hierdie en daardie sonde is, herinner ons onsself oor hoe sleg ons dink ons is en vergeet ons dat al ons sondes meer as 2000 gelde aan die kruis vergewe is!
Die skrywer van Hebreërs wou dieselfde vrymoedigheid in sy lesers aanwakker deur hulle te wys hoe die Nuwe Verbond wat uitstyg bo die Ou Verbond, die gelowige toelaat om God te nader met vrymoedigheid, nie omdat hulle in hul eie vlak van gehoorsaamheid aan die Wet vertrou nie, maar instede in die bloed van Christus. Diégene wat God probeer beïndruk deur hulle eie pogings tot wetsonderhouding is soos die priesters onder die Ou Verbond wat konstant bewus gebly het van hulle foute, want geen mens was of is ooit in staat om die vereistes van die Wet volmaak na te kom nie:
[Heb 10: 1 Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. 2 Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie. 3 Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes; 4 want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem].
[Heb 10:12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God 13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete. 14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word].
[Heb 10:19 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou].
Watter van die volgende houdings sou Christus eerder wou hê ons moet mee rondloop: Om veroorldeeld, onwaardig en skuldig te voel, smekend op ons kniëe voor Hom rond te kruip en gedurig vir genade te smeek? Terselfde tyd sonder enige vrymoedigheid om Hom te nader omdat ons voel ons is sondaars? Of sou God eerder wou gehad het dat ons bewus moet wees van die feit dat ons volkome vergewe is van alle sondes (in ons verlede, hede en toekoms), ten volle aanvaar en geliefd is deur Hom, verstaan hoe ons geregverdig is en geregtig gemaak is en outoriteit gegee is oor siekte, armoede en alle ander vyande van God?
Ons is selfs in die hemele saam met Christus gesete! [Ef 2:5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus]. Nou hoe kan ‘n gelowige wat in die hemel sit steeds dink hy is ‘n sondaar? Dit kan slegs gebeur wanneer ons probeer om teenoor God te identifiseer op grond van hoe goed ons opgetree het; deur te vergeet dat dit nie die manier is hoe Hy teenoor ons identifiseer nie. God is ‘n Gees en Hy identifiseer Gees tot Gees. En omdat die Gees van ‘n gelowige heilig, perfek, rein en regverdig gemaak is, is dit die manier hoe God ons sien.
In Matt 3 sien ons hoe Jesus gedoop word in die Jordaanrivier. Dit was voordat Hy enige wonderwerke gedoen het, voordat Hy sy bediening begin het en voordat Hy selfs ‘n enkele persoon genees het. Nadat Hy gedoop is het die hemele oopgegaan, die Gees het soos ‘n duif op Hom neergedaal en die Vader het gesê “Dit is My geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het”. Wat hierdie gebeurtenis so wonderlik maak is die feit dat Jesus aanvaar en geliefd was deur God nog voordat Hy een wonderwerk gedoen het of Sy bediening begin het. Hoekom het God Hom dan toé al so liefgehad? Want Jesus was God se Seun – so eenvoudig soos dit.
Die Bybel vertel ons ook oor en oor dat ons God se kinders is as gevolg van ons geloof in Christus. [Rom 8:16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is]. Inteendeel ons word selfs Seuns genoem, net soos Jesus: [2 Kor 6:18 en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige]. Nou as God vir Jesus liefgehad het op daardie stadium buiten die feit dat Hy nog geen wonderwerke gedoen het nie, nog nie ‘n bediening gehad het of selfs een preek gepreek het nie, sal God (omdat Hy dieselfde is vir altyd) ons nie ook dieselfde lief hê nie? Ons kan daarom, selfs al voel ons nie of Hy lief is vir ons nie, selfs al dink ons dat ons die grootste sonde gepleeg het of ons dalk voel dat ons ons lewens met nuttelose aktiwiteite gemors het, vetrou dat God verheug is oor ons as gevolg van ons identiteit: Ons is Sy geliefde kinders, gekoop met die kosbaarste kommoditeit in die heelal: die bloed van Christus: [1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos]. God is lief vir ons, of ons nou wonderwerke doen of ‘n bediening het, OF NIE.
In Genade
Andre van der Merwe



