Onskuldig soos Kinders
08.25.09
Onskuldig soos Kinders
Aanstoot en ongeloof in die goedheid van God kan twee van die mees kruppelende kragte wees in die lewe van ‘n Christen, en iets waarteen alle gelowiges teen moet waak. Dit was ongeloof in die goedheid van God wat veroorsaak het dat Adam en Eva van daai boom geëet het in die tuin van Eden. God het alreeds aan hulle alles gegee EN hulle was in die beeld van God Homself geskape! (Gen 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape). Maar Satan het hulle oortuig dat God besig was om op een of ander manier iets goeds van hulle te weerhou, dat hulle soos God “kon” wees, terwyl hulle inderdaad reeds was!! Die skrywer van Hebreërs beveel ons ook om teen hierdie selfde houding te waak: Heb 3:12 Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.
Ons sien dieselfde ding in die harte van baie Christene vandag. Ons was almal terleurgestel of gepynig op een of ander stadium in ons lewens, òf deur mense òf deur die lewe self, en wanneer ons boonop nog ‘n hart het wat verhard is tot ‘n sekere graad teenoor God, (wat NIE verantwoordelik is vir enige seer of pyn in ons lewens nie), is ons geneig om Hom te begin vra hoekom hierdie dinge met ons moet gebeur. “Hoekom ek Here? Hoekom laat U dit toe?” Die grootste oorsaak vir mense om te twyfel in die goedheid van God is die filter waardeur hulle die lewe sien. Die goedheid van God kan oral rondom ons gesien word, en wanneer ons Hom leer ken soos wat Hy Homself WAARLIK deur Sy Woord openbaar kan ons nie help om oorweldig te word deur Sy goedheid nie! Selfs die Engele het dit uitbasuin toe Jesus gebore is: Luk 2:14 Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! (welbehae = goeie bedoeling, intensie om voorspoedig te maak).
Selfs volwasse Christene kan aanstoot in hulle harte ronddra wanneer hulle weet dat daardie siekte wat hulle in die naam van Jesus beveel het om die persoon se liggaam te verlaat is veronderstel om te gaan, maar dit doen nie. Selfs nou soos wat ek hierdie boodskap tik, het ek sopas die laaste week tuis spandeer met seker die slegste griep wat ek al ooit gehad het. Nou in my lewe het ek al dowe ore sien oopgaan, kankers sien genees, demone uitgedryf ens ens, maar geen hoeveelheid teregwysing, rus, beveling van die griep om my liggaam te verlaat, nagmaal gebruik, of te net te “week” in God se teenwoordigheid wou hierdie griep laat gaan nie. Ek kon maklik vir God begin vra het: “Hoekom God? Hoekom moet ek so ly? U Woord sê deur Sy wonde het daar vir my genesing gekom (Jes 53), so hoekom sien ek nie my genesig nie?” Ek kan kies om hierdie houding in te neem en aanstoot te laat inkruip, of ek kan kies om God te loof ten spyte van my omstandighede. In die hemel sal daar geen siekte of lyding wees nie, so hierdie leeftyd is die enigste tyd wat ek he tom aan God ‘n offer kan bring IN my pyn en ten spyte van my pyn, selfs al is HY nie verantwoordelik vir dit nie.
Bill Johnson van Bethel Church in Redding (California) se dat hy geleer het die geheim om vars te bly in God is om te fokus op die dinge wat God wel doen, en nie op die dinge wat God NIE doen nie. Rob Rufus van City Church International (Hong Kong) se dat die geheim is om die onskuldige hart van ‘n kind in jou te laat herskep word, en sodoende te voel asof jy nog nooit gesondig het nie en ook asof niemand nog ooit teenoor jou gesondig het nie.
Sommige mense se harte is so verhard dat hulle tot op die uiterste toe skepties geword het en constant twyfel in die goedheid van God. Hierdie mense, selfs al sou God ‘n magtige wonderwerk reg voor hulle oë verrig (soos bv. ‘n dowe oor wat genees word), sou hulle steeds probeer om een of ander manier te vind om dit te probeer weg verduidelik. Hulle sal glo dat daar en of ander vorm van ‘n kullery betrokke was, oë-verblindery, en dat hulle eintlik “heilig” is om nie gekul te word deur hierdie sogenaamde “wonderwerk” nie. Hulle sal dinge sê soos “dalk was die persoon nie regtig doof in die eerste plek nie.”Johannes die Doper, die magtige profeet en die voorloper van die Messias wat die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus sien neerdaal het, is in die tronk gegooi deur Herodes. Nou Johannes kon gekies het om te bly glo as gevolg van al die dinge wat hy in sy lewe gesien het, maar in plaas daarvan het hy aanstoot geneem en Jesus begin bevraagteken as gevolg van sy eie bejammerende omstandighede, en toe stuur hy boodskappers na Jesus toe om Hom te vra of Hy REGTIG die Messias is. En toe stuur Jesus aan hom hierdie antwoord: Mat 11:4 En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: 5 blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. 6 En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
Ongeveer 3 weke gekede het ek ‘n wonderlike gesprek oor Skype gehad met my vriend Johannes Loubser in Suid-Afrika oor “bediening” en “roeping”, en net soos wat ons totsiens sê vir mekaar, kom daar ‘n veer (wat ek met my kinder-geloof glo die veer van ‘n engel was) afgedryf uit die bloute (onthou ek was binne ‘n toe kamer) en land toe reg voor my op my lessenaar! Indien ek enige ruimte gegee het vir die aanstoot in my hart met die griep hierdie week, kon ek maklik vergeet het van die veer 3 weke gelede. Maar jy sien die geloof wat in my opgespring het van daardie wonderwerk 3 weke gelede het my aan die gang gehou deur hierdie moeilike tyd! Ek het geleer in my lewe dat aanstoot nooit gegee kan word nie, dit kan slegs geneem word. Maak nie saak hoe sleg die belediging, die verloning of die bedrieding, jy moet steeds aanstoot NEEM. Jy moet dit VAT.
Aanstoot en ongeloof in die goedheid van God kan inkruip deur jare se indoktrinasie deur kragtelose predikers wat teologiëe vorm om verskonings te maak vir hulle tekort aan krag, in pleks van om hulle teologiëe aan te pas om saam te stem met die vlak van God se Woord. Mar 7:13 So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het. Heidi Baker van Iris Ministries (Mosambiek) laat telkemale haar weeskinders bid vir die siek mense en hulle het ‘n sukses koers van oor die 90% om dowe mense te genees, asook om menigte ander asemrowende wonderwerke daagliks te sien gebeur. Sy sê die rede hoekom sy meestal haar kinders vir die siekes laat bid is omdat allle kinders steeds glo dat God wonderwerke verrig, dat Hy kanker kan genees en dowe ore kan oopmaak. En hulle sal dit bly glo totdat ‘n volwassene hulle vertel dat God dit nie kan doen nie. Kinders is nog nie “gespoil” deur materialisme en ongeloof nie, en hulle het rein harte wat glo in die magtige krag van die Koninkryk van God.
Miskien is dit deel van die rede hoekom Jesus die volgende gese het: Mat 19:14 Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele. En ook Mat 18:3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!
In Genade
Andre van der Merwe
www.newcovenantgrace.com/afrikaans


