Nie Net ‘n Ou Sondaar Nie

01.21.10

Nie Net ‘n “Ou Sondaar” Nie

Alhoewel dit waar is dat gelowiges voorheen bekend was as “sondaars”, kan dieselfde nie gesê word vir ‘n wedergebore Christen nie. Na die kruis deur die hele Nuwe Testament, verwys die term “sondaar” konstant na ‘n persoon wat God verwerp het, wat gekies het om in onderwerping te leef aan die vleeslige begeertes van hulle sondige natuur. Dit praat baie duidelik van ‘n persoon wat NIE wedergebore is nie.

Alombekende evangelis, Steve Mcvey (www.gracewalk.org), skryf die volgende:
Die primêre projek vir meeste Christene in die moderne kerk is om die hoeveelheid sondes in hulle lewe te probeer verminder. Dit is ‘n “sonde-bestuur program” waaaraan hulle hulself heelhartig verbind met groot ywer en opregte toewyding. Dit klink alles so goed op die oppervlak.
  En daarin lê die onderliggende “slinksheid” van self-geregtigheid: Dit klink “reg” vir die godsdienstige oor ten spyte van die feit dat dit teenstrydig is met wat die Bybel leer. Dit klink baie goed vir my dat om “heilig” te word verg dat ons hard moet werk om ons slegte werke te verander en hulle moet vervang met goeie werke. Vir die godsdienstiges is dit alles oor die vermindering van die hoeveelheid sondes wat ons pleeg en die vermeerdering van die goeie dinge wat ons doen. Maar heiligheid kom nie van dit nie. Heiligheid is nie die afwesigheid van sondes in ons lewe nie.
Inderwaarheid, die rede hoekom ons heilig is, is omdat die Gees van God in ons woon…
  Omdat die Heilige Gees binne-in ons gees kom woon het, en omdat ons gees die kern van ons identiteit is (ons IS ‘n gees, HET ‘n siel en WOON in ‘n liggaam), is ons nou heilig want God se Gees woon binne ons. Dit het niks te doen met om sonde te weerstaan of om in te gee vir sonde nie. Die waarheid is dat jy net so heilig is of jy sondig en of jy nie sondig nie. Jou identiteit word nie bepaal deur wat jy doen nie, dit is bevestig deur wat Hy gedoen het!

Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde van verse in die Bybel wat handel oor hierdie onderwerp:

[Rom 5:8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was]. Hierdie vers sê duidelik dat terwyl ons nog sondaars WAS, het Christus vir ons gesterf, wat by implikasie beteken dat ‘n gelowige nie meer ‘n sondaar is nie.

[1Tim 1:9 en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars...] Daar is nogal baie wat in hierdie vers gebeur:
  Eerstens sê dit dat die Wet (insluitend die 10 Gebooie) nie vir ‘n geregtige persoon gemaak is nie, wat verwys na ‘n persoon wat wedergebore is en die geregtigheid van God as ‘n gratis geskenk ontvang het. So ‘n persoon is vir ewig perfek gemaak in God se oë: [Heb 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word].
  Verder sê hierdie vers dat die Wet gemaak is vir goddelose mense en sondaars en dit noem ook hierdie mense “wetteloos”. Dit is omdat onder die Nuwe Verbond (testament) is dit nie diégene wat faal om die geskrewe morele kode van die Wet te onderhou, wat “wetteloos” genoem word nie, maar diégene wat weier om die gratis geskenk van redding te aanvaar wat deur God aangebied word, wat hulle rûe op God en Sy Genade draai en hulle harte verhard teen die liefdevolle pogings van die Heilige Gees om hulle te laat bekeer en gered te word. Hierdie mense sal hulle status as moordenaars, egbrekers, leuenaars, ens. behou omdat hulle weier om die vergifnis te aanvaar vir hulle sonde, vergifnis wat vryelik deur God aangebied word vir al diégene wat kies om in Hom te glo.

Nog ‘n skrifgedeelte wat hierdie beginsel staaf is die volgende: [1 Kor 6:9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God]. Vers 9 sê dat die “onregverdiges” nie die koninkryk sal beërwe nie. En dan gaan dit verder en beskryf ‘n lys van dade wat gedoen word deur mense wat nie van hulle sondes vergewe is nie, in ander woorde diégene wat nie hulle geloof in Christus geplaas het om verenig te word met Hom nie. En dan in vers 11 sien ons die sleutel om hierdie skrifgedeelte te ontsluit: Paulus sê “dit WAS sommige van julle (lees weer die vers). En dan gaan hy aan en beskryf wat gebeur het met die persone wat hulle geloof in Christus geplaas het, en sê hulle IS geheilig en geregverdig, wat beteken dat hulle nou skoon, onskuldig en vergewe staan voor God. Slaan dit nie net jou asem weg nie?

Dit dien om te bevestig dat wanneer ookal die Bybel (na die kruis) praat van ‘n “sondaar”, verwys dit na ‘n persoon wat nog nie wedergebore is nie. Kom ons kyk na nog 3 verse:

[Jak 5:20 laat hy weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek]. Hierdie vers verduidelik dat ‘n “sondaar” gered kan word van die dood en sy sonde vergewe word as hy van sy dwaalweg bekeer word.

[1 Pet 4:18 En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?].  Hierdie vers is 100% in ondersteuning van 1 Tim 1:9 (bo) en dit kontrasteer duidelik die “regverdige” met die “sondaar en goddelose”.

Die volgende vers beklink dit: [1 Joh 3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore]. Dit bevestig dat ‘n wedergebore Christen nie meer ‘n “sondaar” genoem kan word gebasseer op sy vlak van goeie of slegte werke nie, want dit verg geen breins om te weet dat almal amper elke dag van hulle lewens foute maak nie! En tog sê hierdie vers dat dat wie-ookal uit God gebore is (wedergebore is) geen sonde doen nie. Dit is omdat hulle identiteit nie gebasseer is op die vlak van hulle onderhouding van die 10 Gebooie nie, maar inteendeel wel gebasseer is op die volkome en volmaakte werk van die kruis!

Daarom kan ons voltrek dat wedergebore Christene REEDS die geregtigheid van God as ‘n geskenk ontvang het en volkome geheilig is (in hulle gees) en daarom nie sondaars genoem kan word nie, selfs al weerspiëel hulle optrede nie hierdie waarheid nie. Ja ons leef nie altyd in 100% gehoorsaamheid aan God nie, maar dit beïnvloed nie die feit dat God ons steeds sien as volkome geregtig, vergewe, geheilig en regverdig nie. En natuurlik vir diégene wat dalk glo dat ons impliseer dat Christene nou net kan uitgaan en sondig soveel as wat hulle wil, ons impliseer dit glad nie.

In Genade
Andre van der Merwe

Share

Leave a Reply