Wanneer Het Die Ou Testament Ge-Eindig? (deel 1)
04.03.10
Wanneer Het Die Ou Testament Ge-Eindig?
Die Bybel spreek menigmale daarvan dat ons erfgename van God is, of dat ons ‘n erfenis of erfdeel ontvang het. Daar is nog vele ander verse as die voorbeelde hier onder:
[Rom 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word].
[Kol 1:12 en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig].
Nou volg dit logies dat vir ons om erfgename van God te word, dat Hy ‘n testament moes gehad het wat gespesifiseer het dat ons van Hom sou erf. Die Bybel het slegs 2 Testamente, naamlik die Ou en die Nuwe Testament. Beide die Hebreeuse en Griekse woorde wat gebruik is in die Bybel vir die woord “testament” kan ook vertaal word as “verbond” (“covenant” in Engels). Wanneer die konteks te doen gehad het met verhouding, was dit vertaal as “verbond”. Wanneer die konteks egter oor erfenis gehandel het, is dit vertaal as “testament”.
G1242 ????????: dee-ath-ay’-kay
From G1303; properly a disposition, that is, (specifically) a contract (especially a devisory will): – covenant, testament.
Dit is algemene kennis dat wanneer ‘n persoon na sy prokereur toe gaan om ‘n nuwe testament op te trek of veranderinge aan sy huidige een aan te bring, dat die ou een ongeldig verklaar word. Op dieselfde manier het God Sy Ou Testament opgetrek, maar later ‘n nuwe een ingestel om dit te vervang! Ons sal binnekort na die skrifte kyk om dit te bewys.
In Gen 12, 15, 17 en 22 sien ons dat God die Ou Testament / Verbond met Abraham sluit. Dit is belangrik om te weet dat die ENIGSTE erfgename van hierdie Testament Abraham en sy nakomelinge in die vlees was, wat eers die Hebreërs genoem was, later bekend gestaan het as Israel en steeds later die Jode geword het. Die erfenis wat God aan hulle gegee het was die Beloofde Land, ‘n geografiese gebied bekend as Kanaän.
In kort was hierdie die hele Ou Testament. Nie die Filistyne, die Assiriërs, die Egiptenare of engie ander nasie het erfgename onder die Ou Testament geword nie, want ons sien hoe God menigmaal teen hierdie nasies optree ten gunste van Israel – die enigste nasie wat ‘n erfdeel ontvang het onder die Ou Testament. Abraham en ook later Moses het die middelaars geword van die Ou Verbond wat gesluit is tussen God en die nasie van Israel. God het aan hulle die Wet gegee wat die Ou Verbond bekragtig het en in stand gehou is deur die blood van diere-offers: [Heb 9:18 Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie; 19 want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel 20 en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het].
In Heb 9 sien ons ‘n skril kontras wat getrek is tussen die bloed van diere (wat in wese die Ou Verbond in stand gehou het) en die bloed van Jesus, die geestelike “dier” (al ooit gewonder hoekom Jesus die Lam van God genoem is?) wat geoffer is as ‘n perfekte eens-vir-altyd prys vir sonde: [Heb 9:13 Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, 14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien?]. En ook [Heb 10:11 En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; 12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God 13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete. 14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word].
Later in Gal 3 sien ons dat God ‘n Nuwe Testament gemaak het wat al die nasies van die aarde ingesluit het by die verbond wat God met Abraham gemaak het: [Gal 3:16 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus] en ook [Gal 3:28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. 29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename]. Op geen plek in die Ou Testament was daar ooit ‘n bevel aan Israel gegee om die evangelie te preek en dit te versprei na enige ander nasie op aarde nie, want slegs Israel was erfgename on die Ou Testament. Maar onder die Nuwe Testament in Matt 28:19 sien ons Jesus Sy disssipels uitstuur om die Evangelie uit te dra na al die nasies op die aarde. Jesus het die middelaar geword van ‘n Nuwe Verbond, en het dit in Sy eie bloed geskryf (nie die bloed van diere nie): [Heb 9:15 En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang].
In Genade
Andre van der Merwe




