Tiendes & Offerandes

08.10.09

Tiendes en Offerandes

Kain en Abel is was die eerste rekord in die Bybel van iemand wat ‘n offer aan God gebring het. Onthou dit was lank voordat die wet en die 10 gebooie ooit ingestel is, en hulle het vir God ‘n offer gebring uit vrye wil. En dan in Gen 14 het ons die eerste rekord van iemand wat ‘n “tiende” bring in die Bybel. Abraham het sopas die 4 konings verslaan met sy 318 manne: Gen 14:17 Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die  konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. 18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring 19 en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. 20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.

Daar was geen persoon of enige wet wat Abraham geforseer het om om ‘n tiende te gee nie, want die wette van Moses is eers 430 jaar later gegee. Gal 3:17 Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.

Omdat so baie kerke en bedieninge deesdae finanisiële moeilikheid ervaar, “moedig” hulle baie maal mense aan om te vrygewig te wees en te “gee” vir die werk van die Here. Ongelukkig die meeste van die tyd is die Bybelverse wat gebruik word en motiewe wat voorgehou word gebasseer op die die Ou Testamentiese wet.
In hierdie konteks is die volgende gesegde baie waar: “As dit regtig God se wil is, sal Hy sorg dat jou beursie gevul is.” As ‘n bediening of kerk regtig uitgestuur was deur God en die gemeente gevestig is in genade, sal die leierskap amper nooit eers hoef te preek oor tiendes nie, want die mense al outomaties gee uit ‘n motief van liefde. Hulle sal voel dat hulle regtig besig is om by te dra tot iets belangrik en betekenisvol en nie voel dat hulle MOET gee net om hulle sukkelende saak te help nie.

Om mense te leer om op grond van Maleagi 3 te gee is Ou Testamentiese wet! Die hele Bybel was geskryf VIR my, maar nie die hele Bybel was geskryf AAN my nie. Hierdie gedeelte uit hierdie profetiese boek was spesifiek geskryf vir Israel wat op daardie stadium weggedraai het van God af. Die volgende is ‘n vertaling uit ‘n kort uitreksel van “Matthew Henry’s Concise Commentary on the Book of Malachi”: [Maleagi was die laaste van die Ou Testamentiese profete en was veronderstel om 420 voor Christus te geprofeteer het. Hy vermaan die priesters en al die ander mense vir die euwel handelinge waarin hulle verval het, en nooi hulle uit na verootmoediging en reformasie, met beloftes van die seëninge wat gegee sal word met die koms van die Messias.]

Maleagi het die nasie van Israel vermaan omdat hulle God verlaat het en nie die wette van Moses nagekom het nie, wat die gee van tiendes ingesluit het. En wat was die straf as hierdie wette nie nagekom was nie? Vloek op vloek (sien Deut 28). Maar ons weet onder die Nuwe Verbond van Genade staan ons nie meer onder die wette van Moses nie (Gal 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word). Nou met hierdie gedagte in jou agterkop, kom ons lees hierdie verse wat so gereeld buite verband geruk word:

Mal 3:6 Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie. 7 Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer? 8 Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. 9 Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! 10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. 11 Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.

Vers 10 hierbo word telkemale gebruik deur predikers om mense aan te moedig om te gee, om God te getrouheid te “toets”. Dit is egter weereens ‘n wet-gebasseerde leerring, want dit leer mense dat as hulle wel hulle deel doen, sal God Sy deel doen. Maar eintlik het God alreeds sy getrouheid en liefde aan ons bewys: Rom 5:8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Eintlik hoef God nooit weer eers ‘n enkele ding te doen om Sy getrouheid aan ons te bewys nie, want Hy het reeds aan ons Sy mees kosbare geskenk gegee: Sy eie Seun!

Wel waar pas tiendes dan in? Presies waar ‘n heilige leefstyl, gehoorsaamheid en om my naaste ief te hê inpas: Ons doen al hierdie dinge want Hy he tons eerste liefgehad, en dit is ons antwoord/reaksie op Sy liefde vir ons. Ons gee ‘n tiende om met God saam te span in wat Hy besig is om te doen in die aarde, om Sy koninkryk uit te brei en die verlorenes te bereik.

Waar moet ons ons tiende gee? Die antwoord is verseker in jou plaaslike kerk of die plek waar waar jy geestelik gevoed word. Wanneer jy saai in ‘n bediening wat lewe produseer en vrug dra, word jy ‘n vennoot en erfgenaam van daardie lewe want jy het in dit ingesaai. Offerandes word normaalweg gegee bo en behalwe jou tiende aan mense of bedieninge wat jy glo ‘n verskil maak in die wêreld om verlorenes te bereik en om die evangelie uit te dra na die nasies toe. Aalmoese word gegee aan die armes en behoeftiges volgens ons kapasiteit om te gee. Die Bybel leer ons ook om aan apostoliese vaders te gee (soos die kerke wat offerandes aan Paulus gestuur het om hom te ondersteun, Fil 4:15 En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. 16 Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur), en om ‘n leefstyl van vrygewigheid en mededeelsaamheid te leef (Hand 4:32-36 & ook 1 Tim 6:17-18).

Wanneer ons egter in ‘n bediening saai wat ‘n wet-gebasseerde leefstyl propageer (wat leer dat God jou nie sal seen as jy nie ‘n tiende gee nie, of waar jy gedurig gemaak word om skuldig te voel oor jou leefstyl of oor hierdie en daardie sonde of omdat jy nie genoeg gee nie), dan is jy besig om in ‘n bediening in te saai wat dood produseer. 1 Kor 15:56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Moet egter nie bekommerd wees dat jy dood of vervloeking van so ‘n bediening af sal oes nie, want Christus het in ons plek n vloek geword: Gal 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word. Maar jy sal egter ook nie lewe van hierdie bediening af kan oes nie omdat hulle nie lewe produseer nie. Dit is altyd die beste om te saai in ‘n plek waar jy geestelik gevoed word en waar lewe na jou toe ge-imparteer word, die plek waar mense gered en genees word.

Ons kan vertrou dat God altyd goed is en dat Hy ons altyd sal seen en liefhê, ongeag van of ons ons hele salaris weggee of as ons nie ‘n sent gee nie. Sal God ons nie dieselfde en selfs meer seën en liefhê as die lelies van die veld of die voëls in die lug wat Hom niks gee nie…?

In Genade
Andre van der Merwe
www.NewCovenantGrace.com/Afrikaans

Share

Leave a Reply