Verantwoordelikheid of Manipulasie?
10.13.10
Een van die lelikste van alle mensgemaakte tradisies wat vandag in die kerk gevind kan word, is die oortuiging dat gelowiges nodig het om “verantwoording” teenoor mekaar te doen as dit kom by hulle vlak van moraliteit. Hierdie tradisie het sy pad oopgegrawe tot reg in die lewens van baie eerlike, opregte mense wat oortuig geword het dat hulle nodig het om aan ‘n ander person te rapporteer wanneer ookal hulle voel dat hulle met een of ander slegte gewoonte sukkel. Daar bestaan geen Bybelse bewyse om hierdie mensgemaakte tradisie te ondersteun nie – inteendeel die wortels van hierdie veskynsel kan gevind word in die manipulerende eienskappe van die politiese geeste wat agter dit skuil.
Ons sien nooit dat Jesus of Paulus of enige van die ander apostels in die Bybel hulleself op hierdie manier aan ‘n ander person vasgebind het nie. Ongelukkig is die Christelike wandel in die meeste sirkels vandag afgewater tot ‘n “sonde bestuur program”, met kerkleiers wat hulle lede met ‘n fyn oog dophou vir enige disfunksionele optrede en waar die mense se vlak van geestelike volwassenheid bepaal word deur hoe goed hulle in staat is om hulle foute weg te steek.
Niemand het ons ooit as morele polisiemanne oor mekaar aangestel nie – dit is ‘n saak tussen ons en God: [Rom 14:12 So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee]. En natuurlik weet ons hoe God Sy kinders sien: [Kol 1:21 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen 22 in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel].
In sommige van die tradisionele kerke, wanneer die morele vlerke van ‘n gelowige breek, word so ‘n persoon onder “sensuur” geplaas en van daardie punt af word sy optrede baie fyn dopgehou. Tydens hierdie periode word so ‘n persoon vertel dat sy optrede moet verbeter vir God om hom te vergewe en terug te neem as Sy kind. Hy word ook verbied om nagmaal te gebruik (die einste ding wat ons herinner aan Jesus se bloed van vergifnis en God se liefde vir ons!) totdat die leiers van daardie kerk van die opinie is dat so ‘n persoon sy “wanpraktyke” stopgesit het.
In werklikheid is hierdie praktyk niks meer as ‘n demonise sisteem van beheer en manipulasie nie. Dit kom neer op die feit dat mense beheer wil verkry oor ander mense se lewens deur dieselfdes wéér skuldig te verklaar vir wie Jesus gesterf het en wie Hy al hulle oortredings vergewe het.
Dieselfde kan gesê word vir enige ander plek waar van mense vereisword dat hulle deur sekere morele hoepels moet spring om hulle te probeer tem of om hulle posisie van geregtigheid voor God te behou. Paulus het homself sterk uitgespreek teen om onsself te probeer regverdig deur ons eie vlak van goeie werke en gehoorsaamheid aan die Wet: [Gal 2:19 want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe. 20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe].
Hy het later weer hierdie punt benadruk: [Gal 5:1 Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie]. Die meeste mense sou meen dat diensbaarheid ‘n goeie eienskap is, maar wanneer ons goeie werke doen uit ‘n motief om mense of selfs vir God te probeer beïndruk, plaas ons onsself onder ‘n afskuwelike juk van manipulasie en veroordeling.
Alhoewel daar seker nie tè veel skade is om by ‘n nabye vriend aan te klop aangaande ons struwelinge en foute nie, of om hulle te vra vir wysheid of vir hulle gebede om ‘n sekere problem te oorkom nie, in die einde bly dit steeds ‘n saak tussen ons en God. In elk geval is dit baie moeilik om vriende (wat gelowig is) te vind wat volwasse genoeg gegroei het om andere nie te oordeel volgens hulle optrede nie. So vir ‘n persoon om iemand anders te vertel van hulle pornografie probleem of hulle stryd met dwelms, mag so persoon heel waarskynlik opeindig met die ander persoon wat hulle veroordeel vir hulle probleem.
Dit is ‘n hartseer realiteit dat duisende gelowiges wat wakker geword het vir die waarhede van die Nuwe Verbond, van Geregtigheid en die Nuwe Skepsel, gestop het om gereelde Sondag-oggend kerk byeenkomste by te woon. Hulle het uitgeput geraak van die verdraaide manier waarop die evangelie versprei word deur middel van “optrede georienteerde” prediking. Hulle het moeg geraak om voor gefrons te word deur hulle “broeders en susters” oor hulle genieting van die lewe se plesiere, soos om flieks te gaan kyk, te dans, ‘n glas wyn of ‘n paar biere te drink, geselskap te hou met sekere tipes mense, ens ens.
Alhoewel dit dwaas sal wees om onvolwasse, onverantwoordelike gelowiges, wat doelbewus immorele lewens leef, aan te stel in posisies van invloed in ‘n kerk (want die bewyse van wat ‘n volwasse Christen glo sal in hulle dag tot dag optrede sigbaar wees), kan ‘n persoon se vlak van geestelike volwassenheid nie bepaal word deur hulle goeie of slegte optrede nie. Ons kan eenvoudig net nie ‘n ander person se vlak van spiritualiteit meet aan hulle tekort (of oorvloed) van goeie werk nie, want on sweet nie wat agter die gordyn aangaan nie.
Iemand wat halsoorkop verlief is op Jesus mag byvoorbeeld dalk erg sukkel om ‘n slegte gewoonte af te leer, omdat hulle elke Sondag vertel word dat as hulle maar net sou ophou om hierdie of daardie ding te doen, God weer tevrede met hulle sou wees. Hierdie tipe van wet-gebasseerde prediking is kragteloos teen die aanslae van versoekings, want dit is gebasseer op ‘n ou, uitgediende verbond. Dit is slegs ‘n openbaring van God se onvoorwaardelike liefde en om Christus déur ons te laat leef, dat ons in oorwinning oor die vlees kan leef: [Rom 8:3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees, deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees].
Aan die ander kant, ‘n persoon wat allerlei goeie werke doen, is dalk in werklikheid nie eers ‘n kind van God nie! Sommige van die mees goedhartige, vreedsame, nederige en liefdadige mense op die planeet is nie eens Christene nie, byvoorbeeld die Boeddiste en navolgers van die Krishna beweging.
Laat ons daarom vas staan in die vryheid wat Christus so duur prys voor betaal het. As ons gewete skoon is voor God, wie kan ons veroordeel? [Rom 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak].




