10 Redes Om Die 10 Gebooie Te Vermy
11.15.10
Dit is moeilik om te verstaan hoe menigte gelowiges, selfs in ons tyd, oortuig is dat hulle wetsonderhouding en goeie optrede verhewe kan wees bo ‘n verhouding met Jesus wat gebasseer is op liefde en vryheid. Hoe is dit dat lojaliteit teenoor ‘n ou Joodse reel-sisteem meer belangrik kan wees as die einste persoon wat dit alreeds namens ons vevul het? Net soos hardnekkige Israel in die woestyn, kleef mense vandag steeds arrogant vas aan ‘n geskrewe kode wat eintlik bedoel was om hulle sondige toestand te ontbloot en hulle na Jesus te wys!
[Joh 5:39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. 40 En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie]. Jesus is nou selfs nader aan ons as wat Hy aan Sy dissipels was – Hy leef in ons deur Sy Gees! Maar soos die Fariseers, selfs toe Jesus reg voor hulle staan, kies menigte Christene die wet bò Christus.
[2 Kor 3:14 Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. 15 Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart].
‘n Groot gedeelte van die liggaam van Christus is so behep en vasgevang in hulle Sondag-oggend byeenkomste, tradisies, pogings om ‘n heilige leefstyl te probeer handhaaf en het hulle harte so verhard teen ons Vader se liefdevolle toenaderings, dat dit geen wonder is dat die wêreld niks te doen wil hê met Christene nie! Die term “Christen” in meeste sekulêre sirkels is sinoniem met ‘n persoon wat wil hê ander mense moet ophou om hierdie en daardie sonde te doen, hulle lewe in orde moet kry en begin om vir God te werk! Nou wie in hulle gesonde verstand sou hulle leefstyl van wêreldse plesiere wou opgee vir ‘n tronksel soos dit?
Maar wanneer ons aan hulle die onvoorwaardelike, orrdeel-vrye liefde van ons Vader wys, wat Sy genade onverdiend uitstort op almal wat dit wil aanvaar, dan is dit dat hulle onweerstaanbaar na Hom toe aangetrek word. Dit is wanneer hulle die vrugte van die inwondende Gees deur ons sien manifesteer, dat die leë spasie binne hulle uitroep om gevul te word met die ware lewe van die opgestane Christus.
10 Redes om te Hardloop!
Kom ons kyk na 10 belangrike redes hoekom Christen nie volgens die vereistes van die wet en die 10 Gebooie behoort te leef nie:
1) [Gal 3:19a Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom]. In vers 16 verwys die “saad” na Christus. So die wet was gegee vir ‘n sekere tydsperiode, totdat die Saad sou kom. Daardie tyd het gekom en gegaan meer as 2000 jaar gelede.
2) [Gal 3:24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie].Selfs al was die wet tot nut vir ons in ‘n sekere mate tydens ons vormingsjare, deur ons vlees uit die moeilikheid te hou, kan dit nooit dien as ‘n plaasvervanging vir om deur God se Gees gelei te word noudat ons kinders van God is nie. Op een of ander stadium moet ons besef ons het die kleuterskool klas ontgroei waar die wet sy sweep geklap het om ons te tugtig. [Gal 5:18 Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie].
3) Die wet is ontwerp om ons te verdruk en te oorwin, ons tot stilswye te bring en ons te wys hoe sondig ons is. Paul Ellis (escapetoreality.org) skryf die volgende: “… die wet is supernatuurlik geïnspireer om sonde te stimuleer (Rom 5:20). As jy ‘n sondaar is, sal die wet jou vertel wat om nie te doen nie en dan ‘n behoefte by jou skep om presies dit te doen! God het nooit aan ons die wet gegee soda tons kan weet hoe om op te tree nie. Hy het dit gegee sodat ons bewus kan wees van ons sonde en stilgemaak word deur skuld (Rom 3:19-20).” Cornel Marais (www.charismaministries.org) skryf: “Die wet blameer jou, maar Genade het Jesus namens jou geblameer.”
4) Om te probeer om onder die verdrukking te leef van iets wat ontwerp is om ons te vernietig, kan slegs opeindig in terleurstelling en verlies. Die geskrewe kode van die wet kan nie lewe gee nie, slegs dood. [2 Kor 3:6b want die letter maak dood, maar die gees maak lewend].
5) ‘n Wet gebasseerde leefstyl is ‘n kragtelose, nuttelose plaasvervanging vir om deur die Gees gelei te word. Byvoorbeeld, die wet vereis dat ons 10% van ons inkomste moet gee, maar die Gees sê “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief” (2 Kor 9:7).
6) Die wet laat ons sonder weerstand teen die krag van sonde; inteendeel die ware doel van die wet is om sonde te openbaar! [Rom 5:20a Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word]. Ons sal elke keer met ‘n bloedneus wegloop as ons probeer om sonde te oorkom deur ons eie vleeslike pogings om die wet te onderhou. Dit is slegs deur om onsself aan die Heilige Gees te onderwerp en Hom toe te laat om deur ons te leef en ons te lei, dat ons in vryheid van veroordeling kan leef. [Rom 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade].
7) So onverbiddelik en intimiderend as wat die straf vir wetsoortreding ookal mag wees, geen person was nog ooit in staat om God se seëninge of die ewige lewe te verdien deur die wet se vereistes 100% van die tyd na te kom nie – net Jesus kon dit doen. En as gevolg van ons geloof in Christus, is Sy gehoorsaamheid aan ons toegeëien as ‘n gratis geskenk, wat beteken sonder dat ons dit self gedoen het, sien God ons asof ons al die wette ons hele lewe lank nagekom het! [Rom 8 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees].
8 ) [Joh 1:17 Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom]. In die Engels vind ons die word “but” (“maar” in Afrikaans) aan die begin van die tweede helfte van hierdie vers. [Joh 1:17 For the law was given through Moses, but grace and truth came through Jesus Christ]. Dit beteken dat die eerste helfte van die vers in teenstelling staan met die tweede helfte. As genade en waarheid dus deur Christus gekom het, impliseer dit dat die wet wat deur Moses gegee is nie met genade en waarheid gekom het nie. Inteendeel, toe die wet gegee is by die berg Sinai, het ongeveer 3000 mense doodgegaan omdat hulle ‘n goue kalf aanbid het (Eks 32:28). Maar toe die Gees uigegiet is in Handelinge 2, is ongeveer 3000 mense wedergebore (Hand 2:41).
9) Baie Christene probeer steeds om God te behaag deur hulle eie vermoë om die vereistes van die wet na te kom. Paul die apostel het ‘n baie sterk opinie hieroor gehad: [Gal 5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval]. Dit mag daarom as ‘n verassing kom vir baie mense dat ons nie uit genade uit val wanneer ons sondig nie; ons val uit genade waneer ons volgens die wet probeer leef!
10) Christus is die einde van die wet. Met Sy laaste asem aan de kruis het Hy gesê “Dit is volbring”. Dit beteken dit is voltooi, klaar, vervul en afgehandel. Menigte Christene is egter nie oortuig hiervan nie. Lees gerus ons vorige artikel (http://www.newcovenantgrace.com/afrikaans/christene-onder-wet) as u wil weet wat Jesus bedoel het met die volgende woorde: [Mat 5:17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. 18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie].
Die skrifte is egter duidelik:
[Rom 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet].
[Rom 7:6 Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie].
[Rom 10:4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo].
[Gal 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe].
[Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie].
In Genade
Andre van der Merwe





