Veroorsaak / Laat God Siekte Toe?

06.24.09

Veroorsaak / Laat God Siekte Toe?

Jes 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Aan die kruis was Jesus namens ons sonde gemaak (selfs al het Hy geen sonde gehad nie), sodat ons die geregtigheid van God in Christus kon word (2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom). Aan dieselfde kruis was Hy ook ons siekte en gebrokenheid gemaak, sodat ons in volkome gesondheid kan wandel en genesing kan bedien aan al die mense wat lei aan siektes. Mense wat bevraagteken dat dit God se wil is om die siektes van ALLE mense te genees moet dus ook bevraagteken of ditGod se wil is om die sondes van ALLE mense te vergewe.

Dink jy dat daar enige siekte in die Hemel is? Nee. Siekte is so vreemd vir God se perfekte, heilige natuur, dat indien Hy byvoorbeeld aan ‘n kankergewas sou raak, dit onmiddelik sal disintegreer en tot niet sal gaan. Siekte kan nie bestaan in die teenwoordigheid van God nie. Jesus het gesterf sodat ons in perfekte gesondheid kan loop! Hy het ons krankheid gedra en deur sy strepe het daar vir ons genesing gekom (1 Pet 2:24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is). So indien Hy al hierdie dinge vir ons gedoen het, moet ons dus vra hoekom sou Hy ons dan wou siek maak en sodoende die werk van die kruis kanselleer / neutraliseer? Is God dubbelsinnig? Het Hy ‘n gesplete persoonlikheid? Natuurlik nie.

Nee, somtyds kom siekte op gelowiges omdat ONS dit toelaat. God het al die outoriteit op die aarde aan die mensdom gegee en ons is beveel om oor die aarde te heers (Gen 1:28). Adam het toe hierdie outoriteit verloor deur die satan se leuens te glo. Jesus het egter meer as 2000 jaar gelede gekom om hierdie outoriteit te restoreer wat Hy aan die mensdom gegee het, maar wat deur Adam in die tuin van Eden verloor is. Jesus het hierdie outoriteit terug geneem van die duiwel af en hom heeltemal ontwapen, en hierdie outoriteit terug gegee aan die kerk. En Jesus het spesifieke bevele gegee oor genesing: Matt 10:8 Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.

Het Jesus gesê “bid vir die siekes?” Nee! Hy het gesê “genees die siekes”. Nou hoekom sou Jesus ons beveel om iets te doen as dit onmoontlik was vir ons om dit te doen?

Op hierdie oomblik sit Jesus aan die regterhand van God. Wat doen Hy daar? Heb 10:12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God 13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete. Jesus is besig om te wag vir jou en my om op te staan te vervul wat ons geroep is om te wees: Ambassadeurs van Sy koninkryk geklee met die teenwoordigheid en outoriteit van ons Koning. Deur genesing te bedien en mense se siektes te genees, demone uit te dryf en Sy koninkryk te bevorder, maak ons die duiwel God se voetstoel.

Die wêreld wag ook vir iets. Rom 8:19-21 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. 20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Uit hierdie verse kan ons sien dat die skepping wag vir die kinders van God om gemanifesteer/geopenbaar te word in die aarde. Tot die dag dat ons, as God se kerk, begin om uit te tree en die hemel na die aarde toe te bring deur geloof, sal hierdie wêreld onderworpe wees aan frustrasie. Die kinders van God is ek en jy (Gal 3:26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; sien ook Gal 4:6 en Heb 12:7). Ons loop in Sy roeping as kinders van God wanneer ons die magtige Heilige Gees toelaat om deur ons te werk om die hemel se invloed na die aarde toe te bring. Rom 8:14 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

God gebruik NIE siekte om ons karakter te toets of om Homself glorie te bring nie. Dit is God se wil vir ALMAL om genees te word. Siekte, depressie en dood is alles van die vyand af, maar gesondheid, vreugde, liefde en lewe is gawes van God. Jak 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. God het nie nodig om die getrouheid van enige iemand se hart te “toets” met siekte nie, want God het meer as 2000 jaar gelede alreeds besluit om ons onvoorwaardelik te verlos en aanvaar en lief te hê. Hy het ons reeds goedgekeur – Hy is 100% tevrede met die perfekte gehoorsaamheid van Sy Seun Jesus namens ons.
In Genade
Andre van der Merwe
www.NewCovenantGrace.com/afrikaans/

Share

Leave a Reply